Die Saturday Star het onthul dat Brandon Huntley nie die enigste Suid-Afrikaner is wat deur Kanada asiel aangebied is nie. Daar is nog 32 ander gevalle van Suid-Afrikaners wat as vlugtelinge in Kanada leef.
Terwyl die Suid-Afrikaanse owerhede skarrel om die internasionale verleentheid van Humtley se asiel te probeer verberg, het dit voorts aan die lig gekom dat daar altesaam 600 Suid-Afrikaners is wat as vlugtelinge regoor die wêreld leef.
In Duitsland is daar 170, in die VSA 111, 46 in Ierland, 33 in Kanada, 18 in Frankryk en 15 in Australië. Maar Vrydag het die verteenwordiger van die Verenigde Nasionale Hoëkommissaris vir Vlugtelinge, Sanda Kimbimbi, gesê daar is geen gronde vir enige Suid-Afrikaner om vir vlugtelingstatus aansoek te doen nie.
"Misdaad kan nie as rede vir 'n aansoek dien nie, aangesien dit nie een van die redes is om aansoek te doen vir vlugtelingstatus nie. Die staat kan nie misdaad pleeg nie. Om te sê die staat kan jou nie beskerm nie, is verregaande. Enige persoon kan 'n slagoffer van misdaad wees. As dit die geval is, kan enige iemand in Suid-Afrika dit [asiel] opeis.
Die diplomatieke kloof wat tussen Ottowa en Pretoria ontstaan het, word deur pogings van die Kanadese regering om die besluit om aan Huntley asiel toe te staan, om te keer.
Dr Abraham Nkomo, Suid-Afrika se hoëkommissaris in Kanada, sê die Kanadese het belowe dat die howe tussen 30 en 90 dae sal neem om die besluit van die Asielraad te hersien.
Kanada het intussen aangedui dat hulle hoë agting vir Suid-Afrika se rekord het, vir die rasseharmonie en demokrasie.
Huntley se vervreemde Kanadese vrou, Melanie Crete-Huntley sê sy dink hy sal in lewensgevaar verkeer indien hy terugkeer na Suid-Afrika. Sy sê hy het haar die steekwonde van sy aanvalle gewys.
Huntley het aan die begin van die week laaggelê en sy Facebookbladsy gesluit. Hy het later sy profiel op die netwerk heeltemaal onntrek.
