Nuwe vakansiedag aangekondig vir 2016

President Jacob Zuma het 27 Desember vanjaar as ‘n openbare vakansiedag verklaar nadat ‘n appèl deur die Federasie van Vakbonde van Suid-Afrika (Fedusa) geloods is.

In ‘n verklaring deur die Presidensie, sal die dag, ‘n Dinsdag, as ‘n openbare vakansiedag in terme van Artikel 2A van die Wet op Openbare Vakansiedae verklaar word.

“Die versoek van Fedusa is gemotiveer deur die feit dat werkers in die land vanjaar net 11 openbare vakansiedae in plaas van 12 gehad het as gevolg van die feit dat Kersdag op ‘n Sondag val.”

Volgens artikel 2 (1) van die Wet op Openbare Vakansiedae, 1994, sal “‘n openbare vakansiedag wat op ‘n Sondag val, se daaropvolgende Maandag ‘n openbare vakansiedag wees”.

Hierdie jaar het 25 Desember 2016 en ‘n ander openbare vakansiedag, Welwillendheidsdag oorvleuel.

Die skuif sal verseker dat werkers steeds geregtig sal wees op hul 12 betaalde openbare vakansiedae vanjaar, het die verklaring gesê.