Die Amerikaanse hooggeregshof het pas besluit dat dit verkeerd was om blanke brandweermanne van 'n bevordering te ontneem bloot omdat geen swart brandweermanne die eksamen vir bevordering kon slaag nie. Die blankes kon wel die eksamen slaag.
Die uitspraak is ook 'n verleentheid vir Obama, aangesien sy keuse van 'n regstellende aksie-regter vir die hooggeregshof, Sonia Sotomayer, een van die regters was wat aanvanklik tot 'n ander gevolgtrekking as die hooggeregshof gekom het.
Die Amerikaanse hoogste hof het Maandag in New Haven, Connecticut, beslis in die saak Ricci v DeStefano, dat die toets wat deur wit en Spaanssprekende brandweermanne in 2003 vir hulle bevordering geskryf is, teen wittes gediskrimineer het.
Die eksamen het 'n politieke kleur verkry nadat geen swartes die toets kon slaag nie. Die hooggeregshof het egter met 5 teen 4 beslis dat New haven se regstellende aksie die 1964 Civil Rights Act oortree.
In sy uitspraak het regter Anthony Kennedy gesê die brandweermanne het teen 'n hoë persoonlike koste geleer en eksamen gaan skryf en dat dit die misbruik van "rou rassestatistiek aan die einde van die proses nog baie ernstiger maak".
Die hof was ook ideologies verdeel oor die saak en regter Kennedy het die beslissende stem verskaf om die uitspraak in die guns van die wit brandweermanne te swaai.
Regter Ruth Bader Ginsburg het in teenstelling gesê die wittes het geen "ingeburgerde reg op bevordering nie" aangesien "minderhede byna nooit in leiersposisies gesien word nie". Ander stede, het sy gesê, se toetse bevoordeel ander rassegroepe sodat wittes nie sonder meer bevorder word nie.
Die uitspraak is verder 'n verleentheid vir Obama omdat Sotomayor voorheen as 'n sentristiese en pragmatiese kandidaat voorgehou is, terwyl sy uit en uit ideologies dink. Sy sal die eerste Spaanssprekende regter in die hooggeregshof wees indien sy die aanstelling kry.
Demokrate is vol vertoue dat sy sal slaag omdat 74% van die publiek onlangs in 'n meningspeiling aangedui het dat hulle graag 'n vrou wil sien in die posisie.
