Polisie en gewapende mans het sporadiese op mekaar geskiet by twee luukse hotelle, en 'n onbekende hoeveelheid mense word as gyselaars aangehou, het A. N. Roy, 'n top polisiebeampte gesê.
Pradeep Indulkar, 'n senior beampte by die Maharashtrastaat se Departement van binnelandse sake, het gesê 101 mense is dood en 287 is gewond.
Amptenare het gesê dat ten minste 6 militante ook doodgeskiet is sedert die aanvalle omstreeks 9:30 voormiddag begin het.
Teen die middel van Donderdagoggend, het polisieluidsprekers 'n verbod op beweging ingestel rondom die Taj Mahal hotel, 'n bekende landmerk in Moembaai. Kommandolede in swart het die gebou ingestorm en skote het weer geklap in die omgewing, klaarblyklik die begin van 'n nuwe aanval op die militante wat gyselaars in die hotel geneem het.
Ambulanse is gesien waar hulle tot teenaan die hotel se ingang opgetrek het, en joernaliste is versoek om verder weg te beweeg van die gebied.
'n Reeks ontploffings het die Taj Mahal geskud net na middernag. Gille is daarna gehoor en swart rook het by vensters van die eeu-oue gebou op die Moembaaise waterfront uitgeborrel. Brandweermanne het die brand probeer blus en mense met lere van balkonne afgehaal. Teen sonsopkoms was die brand steeds nie geblus nie.
Die aanvallers het spesifiek Britte en Amerikaners uitgesoek by die hotelle en restaurante, het ooggetuies gesê. Amptenare het gesê ten minste 120 mense is gewond.
Alex Chaimberlain, 'n Britse burger wat by die Oberoi hotel geëet het, het aan Sky News vertel dat 'n gewapende man wat Hindi of Oerdoe gepraat het, het tussen 30 en 40 mense uit die restaurant na die trappe weggelei.
"Hulle het spesifiek oor Amerikaners en Britte gepraat. Daar was 'n Italianer vir wie hulle gevra het van waar hy afkomstig is, en toe hy geantwoord het dat hy van Italië kom het hulle gesê dit is reg, en hom gelos. Ek het gedink 'reg, as hulle my enige iets moet vra sal hulle my seker skiet, maar Goddank het hulle nie,' het hy gesê."
Chamberlain het vertel dat hy weggeglip het toe die gaste teen die trappe op geforseer is, maar hy het gedink dat 'n groot deel van die groep as gyselaars gehou word.

Spanne gewapende mans het luukse hotelle, 'n gewilde restaurant, hospitale en 'n treinstasie aangeval in gekoördineerde aanvalle regoor Indië se finansiële hoofstad. Ten minste 101 mense is dood in die aanvalle, waarin westerlinge as gyselaars geneem is, en dele van die stad Donderdag onder beleg is, het die polisie gesê. 'n Groep vermoedelike Moslem militante het verantwoordelikheid vir die aksie aanvaar.