Wees gewaarsku, ouboet luister jou af

Stel jou voor dat ingeluister word op kriminele en terroriste wat konkel om dwelms of wapens na Suid-Afrika te smokkel en hulle presiese plekbepaling en tyd van aflewering is bekend. Dit klink soos 'n hoogs tegniese rewolusie in misdaadbestryding en intelligensie-insameling.

 Dit is wat intelligensiebeamptes by die Nasionale Kommunikasiesentrum (NKS) doen in 'n poging om transnasionale georganiseerde misdaad te bekamp.

Stel jou aan die anderkant voor dat 'n foongesprek met jou vriend wat oorsee is, deur 'n luistervink onderskep word sonder 'n lasbrief van die regter. Dit is die senutergende dilemma wat wetgewers en diegene in beheer van die NKS in die gesig staar –  'n kop-aan-kopbotsing tussen vryheid en veiligheid.

Die NKS is in staat om foonoproepe en SMS’e wat van buite die land na ontvangers in die buiteland en binne Suid-Afrika se grense gestuur word, te monitor. 'n Senior intelligensiebeampte sê hulle beskik oor tegniese toerusting wat seine kan analiseer om sin te maak uit die verkeer.

As iemand van buite Suid-Afrika skakel en woorde soos dwelms, sluipmoord of enige ander sleutelwoord wat vooraf op die sagteware afgelaai is, gebruik sal die stelsel dit outomaties onderskep en 'n opname van die gesprek maak. Afgesien van die sleutelwoorde kan die NKS foonnommers van spesifieke teikens op die sagteware aflaai of 'n breë-skandering van kommunikasieverkeer doen.

Volgens die grootprater in die fasiliteit by intelligensie-hoofkwartier, Musanda, buite Pretoria, het die NKS nog nie globale uitreiking nie, maar dek dit meer as die SA Ontwikkelingsgemeenskapstreek. Ofskoon transnasionale misdaad en ekonomiese sabotasie top prioriteite vir die NKS is, dien die sentrum ook as 'n tradisionele spioenasiefasiliteit met die insameling en verspreiding van intelligensie.

Dit sluit in die onderskepping van kommunikasie van toppolitici in ander lande. Die intelligensiebeampte sê hulle vermoed ander lande spioeneer ook op Suid-Afrika maar dit is deel van die spel. Terwyl die NKS help om sommige trans-nasionale georganiseerde misdaad oop te vlek, bly taal 'n groot probleem. 'n Terroris of krimineel wat  in 'n vreemde taal konkel, sal waarskynlik die ore van die onderskeppers ontgaan.

Maar die NKS is oop vir misbruik soos onlangs bewys is gedurende die fop-e-possage waarin kommunikasie van regeringsamptenare na bewering deur geskorste spioenasiebaas Billy Masetlha onderskep is.

Foonoproepe van toppolitici is onderskep terwyl Masetlha uitvoerende direkteur van die NKS was. Dit is waarom parlementslede lugtig is om die NKS  'n blanko tjek te gee.

free bets no deposit required casinoлобановский александр жена