Die Pan African Congress (PAC), het onlangs ‘n beroep op die Universiteit van Fort Hare gedoen om die instelling se naam te verander na dié van Robert Sobukwe, die stigter van die PAC en ‘n alumnus van die instansie.
Die plaaslike reëlingskomitee van die internasionale sokkerliggaam FIFA, het aangekondig dat Linda Mti, voormalige hoof van die Departement van Korrektiewe Dienste, aangestel is as die hoof: veiligheid van die Wêreldsokkerbeker in 2010. Mti moes by die DKD bedank weens aanklagte van korrupsie en dronkbestuur.
Mti is ook anti-Afrikaans. In 2001 is studente van die DKD se Zonderwater-opleidingskollege met die dood gedreig deur amptenare van die departement omdat hulle hul eksamens in Afrikaans wou aflê. Mti het die gedrag van sy amptenare verdedig.
Kritiek is reeds uit die geledere van die DA se mnr. James Selfe uitgespreek. Volgens Selfe is Mti se aanstelling “ten beste voortydig en ten ergste swak oordeel”.
Die gewese gevangenishoof word sedert November verlede jaar deur die Staatsdienskommissie ondersoek weens ‘n botsing van belange. Mti het naamlik bande gehad met maatskappye wat terselfdertyd verskaffers van die DKD was. Ook in November 2006 het Mti onder die invloed agter in ‘n ander voertuig vasgery in die Johannesburgse spitsverkeer. ‘n Saak van dronkbestuur is teen hom aanhangig gemaak, maar intussen van die hofrol geskrap weens die departement van gesondheid se gesloer met die tersaaklike bloedtoetse.
Die Amerikaanse skrywer en kritikus van regstellende aksie, Jared Taylor, is onlangs in Kanada verhoed om ‘n voorbereide toespraak in ‘n hotel te lewer.
Dosyne betogers wat agter balaklawas of bandanas geskuil het, het hom hardhandig by die saal uitgesmyt en eksemplare van sy tydskrif American Renaissance opgeskeur. Van die geskeurde tydskrifte is opgeskeur en op een stadium na sy kop geslinger. Die f-woord is glo vrylik deur die betogers gebruik.
Die gebeure het in die Lord Nelson-hotel in Halifax, Nova Scotia, plaasgevind. Mnr. Taylor sou aanvanklik in ‘n debat teen ‘n swart Kanadese professor, David Devine oor die onderwerp “Rassediversiteit: voordeel of nadeel vir Noord-Amerika?” op die kampus van die Dalhousie-universiteit deelneem. Toe Devine kop uittrek, het Taylor die vertrek in die hotel op eie koste gehuur om sy toespraak te lewer. Die toespraak verskyn in die jongste uitgawe van American Renaissance wat ook elektronies op www.amren.com bestel kan word.
Kanada ondervind toenemend rasseprobleme aangesien die land nie meer in staat is om soos in die verlede blanke Europeërs as immigrante aan te lok nie. Rassisme en etniese verdeeldheid word as ‘n toenemende probleem in Kanada gesien.
Die insident het ‘n debat in die plaaslike koerant, die Chronicle Herald, veroorsaak. Verskeie rubriekskrywers het gemeen dat, hoewel hulle nie met Taylor se kritiek op multikulturalisme saamstem nie, hy wel toegelaat moes gewees het om te praat. Daar is ook gevoel dat spraakvryheid in Kanada wesentlik deur polities korrekte stormjaers bedreig word.
Die minister van kuns en kultuur, dr. Pallo Jordan, “sal Pretoria se naam verander sodra hy die oggend opstaan en lus voel om dit te doen”. Tot dan gaan hy egter geen aankondiging in dié verband doen nie.
Volgens berigte verlede jaar sou Jordan voor einde Januarie die besluit of die stad se naam gewysig gaan word, aldan nie, bekend maak. Maar laatmiddag op Vrydag 26 Januarie het Jordan by die Kaapstadse lughawe teenoor my ontken dat hy ooit so ‘n onderneming gegee het. “Ek het nooit enigiets van dié aard gesê nie,” het hy met beslistheid verklaar.
Die onsekerheid oor die Pretoriase naamsverandering duur dus voort. Intussen wil dit voorkom asof sowel die stadsraad as die SAUK wel eensydig die naam van die hoofstad verander het aangesien beide instellings konsekwent die benaming “Tshwane” gebruik. “Tshwane” beteken alternatiewelik “plek van die aap” of “plek van die koei” en die herkoms van die term is steeds in onsekerheid gehul.
Gerugte loop wyd dat die hele Pretoria oranje, wit en blou geverf sal word indien die naams finaal sou verander. Sedert die eerste aankondiging van ‘n naamsverandering is die meerderheid Pretorianers daarteen gekant en het daar ook verskeie groot betogings daarteen plaasgevind.
Die nuus oor die inhegtenisname van die voortvlugtige Boeremaglede, Herman van Rooyen en Rudi Gouws, het die kollig geplaas op die SAPD se hoofsaaklik blanke taakmag wat hemel en aarde beweeg het om die twee weer agter tralies te kry.
Op Nylstroom waar die egpaar Bogaards gearresteer is omdat hulle na bewering die twee voortvlugtiges op hul plaas laat kampeer het, het ‘n blanke taakmaglid aan ‘n bejaarde buurman van die Bogaardse gesê, “Oom, as jy deur dié hek gaan, skiet ek jou soos ‘n hond dood!” Die buurman wou gaan ondersoek instel op die plaas nadat daar aanvanklik geglo is dat die Bogaardse dalk die slagoffers van ‘n plaasaanval was.
In die Sondagblad Rapport is ‘n groot foto van die gearresteerde Boeremaglede geplaas, maar slegs met swaar gewapende swart polisiemanne by die beskuldigdes. Die vraag ontstaan waarom die blanke taakmaglede wat hoofsaaklik die verskillende operasies op die Bogaardse en die meenthuis in Centurion (voorheen Verwoerdburg) uitgevoer het, nie ook afgeneem word nie?
Tydens die Rebellie in 1914 het die destydse Eerste Minister, generaal Jan Smuts, seker gemaak dat hy slegs Afrikaners teen die rebelle ontplooi. Dit wil voorkom asof die ANC ‘n soortgelyke strategie voer teen die Boeremag, deur grotendeels blanke Afrikaner-polisiemanne teen hulle in te span.
Oor die naweek het ook bewerings in die pers verskyn dat die polisie doodsdreigemente van die Boeremaglede se familie en ondersteuners sou ontvang. Dit mag een verklaring bied waarom die blanke polisietaakmag wat tot dusver soos in Hollywoodfilms in die vroeë oggendure deur dakke klim of in helikopters bo plase sirkel onsigbaar gebly het: hulle vrees weerwraak vanuit hul eie gemeenskap.
Uit die berigte wat tot dusver oor Herman van Rooyen en Rudi Gouws verskyn het, is daar ‘n merkbare toonverskuiwing, vergeleke met enkele jare gelede toe die Boeremag uiters onsimpatiek in die koerante van Nasionale Pers uitgebeeld is. Tans val die klem op die menslike sy van die gevangenes, hoe hulle die sonsopkoms en -ondergang of Kersfees waardeer het terwyl hulle op vrye voet was.
Die borgaansoek van die Bogaards-gesin kom vandag in die Nylstroomse landdroshof voor. Deels vanweë die hardhandige optrede van die polisietaakmag, is die hele dorp blykbaar in rep en roer en word ‘n groot skare mense by die hofverrigtinge verwag.
Hoewel die Boeremag aanvanklik as ‘n randeiergroep afgemaak is, mag dit wees dat die staat en veral die oorywerige blanke polisietaakmag se optrede besig is om simpatie vir die beskuldigdes by die publiek te wek.
Die eerste politieke party wat reageer op die nuwe elektrisiteitskrisis is die HNP. Volgens mnr. Louis van der Schyff, hoofsekretaris, "is die ANC se landsbestuur besig om in duie te stort".
Hier volg sy volledige verklaring: "Die Koeberg kragsentrale in Kaapstad het vir die tweede keer in ‘n betreklike kort tydperk gesorg dat die land in ‘n elektriese krisis sit. Bronne in die kragsentrale berig dat daar ‘n ontploffing was wat sy turbines tot stilstand laat knars het. Feitlik onmiddellik is groot gebiede in die Wes-Kaap sonder krag gelaat, terwyl die effek daarvan in die res van die land ook gevoel word, selfs in die hoofstad waar buitelandse missies waarskynlik op hierdie wyse eerstehands kan voel hoe basiese dienslewering onder die ANC werk.
Die elektrisiteitsprobleme word al hoe groter, en probleme word al hoe korter op mekaar gevoel. Ons kan ons net indink hoe dit gaan lyk teen 2010."
Die HNP blameer restellende aksie en transformasie vir die elektrisiteitskris en het voorts gesê: "Dit word met die dag al meer duidelik dat die ANC-regime nie kan regeer en nie kan bestuur nie. Hy kan nie daaglikse dienslewering aan die gang hou nie. Nou word die wrange vrugte voelbaar gepluk van sy beleid om bekwame blankes te vervang met onbekwame Swartes — net omdat hulle swart is.
Ons hoop dat die ambassades en konsulate wat in die land is en hierdie wantoestande nou byna daagliks begin voel, hulle regerings daaroor gaan inlig. Maar dit word al hoe meer duidelik dat, ten spyte van al die ander faktore wat ‘n rol speel, geen wêreldbekersokkertoernooi aangebied kan word as daar nie eens ‘n waarborg is dat die stadions se liggies kan brand nie."
Suid-Afrika het te min elektrisiteit om in die vraag te voorsien, het Eskom vandag aangekondig.
"Eskom ervaar onbeplande kragonderbrekings van 4600 MW as gevolg van tegniesesentraleprobleme. Dit is 3000 MW hoër as die verwagte syfer vir die huidige tydperk," het die maatskappy se direkteur: verspreiding, Jacob Maroga, in ‘n verklaring gesê.
Eskom is besig om alle voorafbeplande noodmaatreëls in werking te stel. Dit sal egter nie genoeg wees om die elektrisiteitstekort vir vandag en moontlik die volgende week te oorkom nie.
Volgens Maroga is die nasionale verspreidingsnetwerk wel stabiel, maar die land staar ’n tekort aan beskikbare opwekkingskrag gedurende dié periode in die gesig. Hy beskryf die situasie as “krities”.
Koeberg-kernkragsentrale se eerste eenheid het om 2.18 v.m. op Donderdagoggend gaan staan toe die turbine uitgeskakel het.
“Die reaktor verkeer in ’n veilige afskakeltoestand. Die oorsaak van die turbine-uitskakeling word tans ondersoek.”
Verpligte ladingverligting sal landwyd geïmplementeer word, indien nodig, om die balans tussen vraag en aanbod te handhaaf.
Eskom het ‘n beroep op die publiek gedoen om alle nie-noodsaaklike elektriese toerusting soos lugreëlaars, warmwatertoestelle en swembadpompe af te skakel. (Gegewens van Sapa)
12 Jan. 2007 – ‘n Ontploffing wat vanoggend by die VS-ambassade in Athene plaasgevind het, het geen beserings nie en min skade veroorsaak.
Volgens Agence France Press is die ontploffing deur ‘n vuurpyl veroorsaak.
"Daar was ‘n ontploffing en geen beserings nie," het Elizabeth Corwin, die persattaché aan die Ambassade, per telefoon gesê. ‘n Ondersoek na die oorsaak van die ontploffing is gelas.
‘n Onbekende aanvaller het die vuurpyl afgevuur, berig AFP, volgens die polisie en Amerikaanse amptenare waarvan die name nie genoem is nie.
Die ontploffing het omstreeks 6-uur v.m. plaasgevind. Die polisie het die gebied rondom die ambassade afgesper wat in die middestad van Athene in Vasillissis Sophias-laan geleë is.