Maar Popeye was ook verkeerd. Dis nie die yster in spinasie wat die eter groter woema gee nie, maar die nitrate daarin.
So het Sweedse navorsers bevind in ‘n artikel wat in die vaktydskrif Cell Metabolism gepubliseer is.
‘n Bord spinasie per dag kan die eter se prestasie met sowat 5 % verbeter, hoewel die navorsers nog nie vasgestel het of die prestasies van top-sportlui wat alles insit, ook sal verbeter nie, maar vermoed wel so.
Die toetse is gedoen op persone wat een nitraatpil per dag, waarvan die hoeveelheid met ‘n bord spinasie ooreenstem, op ‘n oefenfiets te laat trap, en te vergelyk met mense wat nié die nitraat ingekry het nie.
Die bykomende nitraat versterk die mitochondrië wat as “batterye” van liggaamselle dien. Dit vermeerder die energie in die selle, veral spierweefsel, deur glukose te “verbrand”. In die dyspiere blyk dit dat 23 % meer energie opgewerk word, maar dit sit nie alles in beter prestasie om nie.
Die navorsers wys daarop dat nitrate lank ‘n slegte naam in gesondheiodskringe gehad het omdat gemeen is dit dra by tot kankerontwikkeling. Dié bewyse is egter skraps, en dit blyk dat nitrate bloeddruk verlaag en werk die vorming van bloedklonte teen.
Die navorsers moedig egter nie mense aan om elke dag meer nitrate in te neem nie, omdat die langtermyngevolge nog onseker is. Wanneer iemand egter aan strawwe oefeninge meedoen, meen hulle is ‘n bord spinasie per dag in die haak. En as iemand nie lus het vir spinasie nie, ander groentes, soos beet, bevat dit ook.
Ouma het mos gesê beet gee rooi wangetjies.
