Mubarak byt vas

President Hosni Mubarak van Egipte het aangekondig dat hy hom nie in die komende verkiesing in September verkiesbaar sal stel nie, maar dat hy ook nie onmiddellik sy amp sal neerlê nie.

Volgens Skynews maal inwoners steeds in Kaïro se strate ná dié aankondiging.

Mubarak het op nasionale televisie gepraat ná die dae lange protesoptrede waartydens betogers sy bedanking geëis het.

Die Amerikaanse ambassadeur in Kaïro, Margaret Scobie, het vroeër met die vooraanstaande Egiptiese politieke figuur, Mohamed ElBaradei, ontmoet om ‘n politieke oorgang in die land te bespreek.

Dié afgetrede hoof van die VN se kernwaghond, die IAEA in Wene, het geëis dat Mubarak bedank en sê hy is gereed om ‘n oorgangsrol te vervul in enige verskuiwing na ‘n demokratiese bestel in Egipte.

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake sê die Amerikaanse missie het sy steun vir ‘n ordelike oorgang toegesê.

Die VN se Hoëkommissaris vir Menseregte, Navi Pillay, het intussen ‘n beroep op die Egiptiese owerheid gedoen om te verseker dat die polisie en die weermag nie buitensporige geweld teen burgerlikes gebruik nie.

Dit volg na verskeie berigte dat tot 300 mense tot dusver dood en meer as 3 000 beseer is in die oproer.

civilization 2Лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae