“Dit is duidelik uit die verslag dat ondersoekbeamptes nie die nodige kennis het om hierdie tipe misdade behoorlik te ondersoek nie en dat die sake spesialisopleiding vereis van ondersoekers. Hoewel kommissaris Bheki Cele gesê het daar moet weer gekyk word na spesialiseenhede, gebeur dit nie in praktyk nie. Die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika vereis spesialiseenhede om te verseker misdadigers word suksesvol opgespoor en vervolg. Spesiale eenhede, soos die destydse moord- en roofafdeling het verseker dat misdadigers suksesvol vervolg word omdat die ondersoek behoorlik was. Te veel misdadigers in Suid-Afrika loop vry rond en pleeg meer misdaad as gevolg van gebrekkige polisie-ondersoeke wat nie die toets in die howe slag nie,” het Groenewald gesê.
Die Polisie se Nasionale Sielkundige Ondersoekeenheid het ‘n verslag saamgestel en aan verskeie polisie kommissarisse gestuur. Gauteng se kommissaris, lt.genl. Mzwandile Petros, het ook die verslag ontvang. Die verslag verwys na 160 sake die afgelope drie jaar in Gauteng en vra dat die ondersoeke bespoedig moet word. Dit verwys na patetiese ondersoeke en waarsku dat dit ‘n verleentheid vir die Polisie kan word.
