Dié era is ongemaklik in herinnering geroep met ‘n insident waarby me Winnie Madikizela-Mandela en haar lyfwagte betrokke was. Min of meer al wat duidelik is, is dat die motor waarin sy en haar lyfwagte gery het, die spoed liederlik oorskry het, dat sy laat vir ‘n afspraak was, en dat daar ‘n onlekker woordewisseling was toe sy deur die polisie afgetrek is.
Hiervandaan, so wil dit voorkom, is op amptelike vlak eenvoudig aanvaar om haar en haar lyfwagte se weergawe van die gebeure te aanvaar. Die twee polisiemanne is blykbaar in die proses informeel skuldig bevind en gevonnis. Die polisielede is byvoorbeeld aangesê om Madikizela-Mandela om verskoning te vra.
Pas het die vakbond, Solidariteit, die SAPD gewaarsku om die een polisielid by die saak betrokke, nie te viktimiseer nie. Dié lid is ook lid van Solidariteit, en die vakbond het reeds sy regspan opdrag gegee om die lid by te staan.
By die algemene publiek sal daar instinktief ‘n ander gewaarwording wees oor die voorval as wat die polisie waarskynlik onder politieke druk sal ervaar. Midikizela-Mandela het immers ‘n paar na-1994 kriminele skuldigebvindings op die lyf geloop, en volgens een van die interpretasies moes sy eintlik nou gediskwalifiseer gewees het om weer parlementslid te kon word.
Verder, uit die era voor 1994 is daar ook nie positiewe herinneringe oor haar lyfwagte nie, met die Stompe Sipei-geval wat nog in baie mense se geheues leef. Haar lyfwagte het as ‘n sogenaamde sokkerklub bekend gestaan.
Die insident het egter wyer implikasies as net die individue wat nou betrokke is. Dit handel oor die grondwetlike beginsel dat almal gelyk voor die reg is.
Was daar nie nuusdekking en vakbondingryping nie, lyk dit of die beginsel sou geld dat sommiges meer gelyk as ander voor die reg is.
Ongelukkig staan hierdie voorval ook nie in ‘n vakuum nie. Die Julius Malema-era van konvooie wat ook aan verkeerslui verduidelik wat hulle met die spoedboetes kan doen, en volgens aanduidings daarmee weggekom het, is nog vlak in die geheues.
As wetteloosheid vir sommiges toelaatbaar word, staan die land op die vooraand van ‘n Wilde Weste-era. In heelwat van die gevalle was die insidente wit-swart, wat ‘n bykomende dimensie daaraan verskaf.
Die politieke leiers moet die voorbeeld stel, nie die werklike posisie misbruik nie.
