“Die Ouditeur-generaal se algemene verslag oor die uitkoms van die ouditering van munisipaliteite en munisipale entiteite in die Vrystaat, wat nou in die Vrystaatse Wetgewer ter tafel gelê is, toon aan dat geen munisipaliteit of entiteit in die Vrystaat ‘n skoon oudit verslag kon kry nie. Dit is ‘n klad op die Vrystaat se naam,” volgens Oosthuizen.
Die toestand van 16 van die 23 munisipaliteite in die Vrystaat waaroor verslag gedoen is, was so swak dat die Ouditeur-generaal nie in staat was om ‘n ouditmening te gee nie. Dit beteken dat 70% van die munisipaliteite in die Vrystaat in hierdie totaal onaanvaarbare toestand verkeer. Oor twee munisipaliteite is uiters ongunstige ouditmenings uitgespreek en was hulle net gelukkig om nie ook ‘n weerhouding van mening op die hals te haal nie. ‘n Verdere twee munisipaliteite het ‘n gekwalifiseerde ouditmening gekry en twee ander munisipaliteite het ‘n finansiële ongekwalifiseerde verslag gekry, maar die Ouditeur-generaal moes ander sake in die verslag uitlig en kwalifiseer.
Die tendens wat van die grootste oorsake vir die swak oudit uitkoms is, substansiële verliese (R47 miljoen), ongemagtigde uitgawes (R742 miljoen), vrugtelose en verspilde kostes (R57 miljoen), onreëlmatige uitgawes (R665 miljoen) en die beskikbaarheid van stawende dokumente. Dit maak die toestand nog meer onaanvaarbaar en sorgwekkend. Alhoewel nie een munisipaliteit onder spandeer het nie, is ‘n bedrag van R453 miljoen, wat as oordragbetalings aan ses munisipaliteite betaal is vir behuising-, water- en elektrisiteitsvoorsiening en gemeenskapfasiliteite nie spandeer nie.
In 96% van die gevalle het munisipaliteite nie die bepalings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet nagekom nie. In 91% van die gevalle is die bepalings van die Munisipale Strukture Wet en in 55% van die gevalle die voorsiening regulasies nie nagekom nie.
Van die 23 munisipaliteite wat ontleed is, het 21 (91%) van konsultante gebruik gemaak om hulle finansiële bestuur te hanteer. In slegs 3 (14%) van hierdie munisipaliteite was daar ‘n geringe verbetering in die oudit-uitkoms.
By meeste munisipaliteite word voorraad- en batebeheer uiters gebrekkig toegepas, daaglikse rekonsiliasies tussen kontant en kwitansies vind nie plaas nie, maandelikse bankrekonsiliasies word nie gedoen nie en liassering van stawende dokumente is nie ‘n prioriteit nie.
Terwyl munisipale bestuurders en senior amptenare by munisipaliteite astronomiese salarisse verdien, is die finansiële bestuur by bykans elke munisipaliteit in die Vrystaat in ‘n chaotiese toestand. Die Vryheidsfront Plus wys reeds ‘n geruime tyd daarop dat die haglike finansiële bestuur by munisipaliteite die direkte oorsaak vir swak dienslewering is.
“Die haglike toestande waarin munisipaliteite in die Vrystaat gedompel is, het ‘n punt bereik waar dit aan kriminaliteit grens, aangesien dit neerkom op diefstal van die belasting- en dienste-betalers se geld,” het Oosthuizen gesê.
