Die Sweedse kiesers het hul keuses uitgeoefen, maar dit lyk of ‘n nuwe verkiesing dalk uitgeroep sal moet word omdat die vorming van ‘n regering nou onmoontlik lyk. Die ironie is dat die probleem nie soseer is hoeveel stemme die groot partye getrek het nie, maar oor die hoeveelheid stemme wat ‘n klein party getrek het.
In die proses is die Sosiaal-demokrate, wat die verkiesingstoneel lank in moderne Swede oorheers en gevorm het (wie in Suid-Afrika sal ooit Olaf palme vergeet), erg gekneus en het nou maar ongeveer 30 persent van die stemme. Saam met sy tradisionele linkse koalisievennote, wat die groenes insluit, kan dié groepering op 43,5 % van die stemme staatmaak. Die sentrum-regse koalisie het ‘n rapsie meer as 49 % – ‘n haarbreedte van die vereiste 50 % om ‘n regering te kan vorm.
Die “probleem” is dat die populistiese Sweedse Demokrate 5.5 % van die stemme getrek het. Hiermee het dié party met sy wortels in die neo-Nazisme, maar sedertdien baie aangepas, vir die eerste keer die 4 % drempel gehaal om tot die parlement te kan toetree. Dit maak dit so groot soos die bestaande kleinste partye in die parlement, die Christen-demokrate en ‘n klein sosialisteparty.
Die groter koalisie kan dus in beginsel maklik ‘n regering vorm deur die Sweedse Demokrate in die regerende koalisie op te neem, maar dit is waar die kinkel in die kabel lê. Nie die premier of van die ander bestaande koalisievennote sien kans om met die nuwe toetreder, wat van rassisme beskuldig word, geassosieer te word nie. Dit is so erg, dat een partyleier in die aanloop tot die verkiesing selfs geweier het om vir ‘n TV-onderhoud in dieselfde vertrek te wees as die leier van die Sweedse Demokrate, Jimmie Akesson.
Die Groenes is genader om mantel te swaai, maar tot dusver sonder sukses.
Die situasie herinner aan dié van die Nederlandse verkiesing waar Geert Wilders en sy regse party groot vordering gemaak het, en daar aanvanklik ook ‘n erge taaiheid was om te assosieer. Die gevolg is dat Nederland, maande later, nog nie ‘n nuwe regering kon saamstel nie.
Min of meer dieselfde gebeur in België, waar die opkoms van die party van Bart de Wever by tye dit laat lyk of die kanse groter is dat België as staat in die slag gaan bly, eerder as dat ‘n regeringsformule gevind gaan word. De Wever se party, gemeet teen die regse Vlaamse Belang, is egter nie werklik ‘n regse party in die dampkring van Wilders en Akesson se politieke oriëntasie nie.
In al drie lande speel die immigrasiekwessie ‘n rol om die opkoms van regse politiek feitlik te verseker. In die proses lyk dit die opkoms van die Christen-demokrate ten koste van die liberaliste wat eens in Wes-Europa so oorheersend was, bloot ‘n tussenspel was waar liberalisme en konserwatisme as pole teenoor mekaar opgestel word.
Die opkoms van die regse politiek maak dit ook vir die Sweedse politieke leiers wat Akesson wil stuit, riskant, want ‘n momentum na regs bestaan nou nie net in Swede nie, maar ook die hele omgewing. ‘n Nuwe algemene verkiesing met die doel om regs uit te hou, kan boemerang.
