“Ja oom Anneries.” Ek het self die Landbouweekblad onder oë gehad. “Lyk my dit gaan so drie keer meer wees as verlede jaar.”
Oom Anneries laat loop met sy straaltjie pruimtwak in die skotteltjie in. Dié moes hy begin inspan na die tante so gekla het oor hoe haar tuinplante begin lyk het toe hy, oom Anneries, van die snuiftwak af moes af oor die halwe long wat hy nog oor het.
“Man, laat my dink aan die dae toe ek nog geboer het. Hier in die omgewing van Fickburg is veediefstal oor die grens mos nie ‘n nuwe ding nie, en ek beginne toe wonder van wat ‘n mens kan aanhou om die veediewe uit te hou.”
Ek luister aandagtig. Oom Anneries kan, as hy die dag lus het, omtrent ‘n kloon van wyle Jan Spies wees met sy storievertellery, stories waar mens moet wakker slaap om te weet waar feit ophou, en met fiksie verstrengel raak. Maar altyd ‘n kern van die waarheid.
Ander kere, skynbaar heel teen sy aard, kan oom Anneries regtig ‘n doodgewone oom Kaspaas wees. Dié eienskap het hy eers gekry na hy by die Kersiefees van so twee jaar gelede vir die liegstorie-kompetisie ingeskryf het, en derde gekom het.
Ek onthou die storie nog goed. Die een van die rekdraad.
“Oom bedoel seker binddraad,” het die programleier nog probeer sin maak.
“Nee, rekdraad,” het oom Anneries volgehou.
Dié dag het die manne ‘n boodskapper van die lusernland af gestuur dat die vaaljapie in die modder vasgeval het.
“Ek soek eers die kabel, maar sit dit nergens, toe gryp ek ‘n rol draad wat ek die week by die koöperasie gekoop het en gooi dit agter op die trokkie, en ry lande toe. Daar maak ek ‘n stuk van die draad los, en woel die vaaljapie stewig agter die bakkie vas. Ek beduie vir die manne, hulle draai die slinger, en die vaaljapie gesels. Toe trek ek stadig weg, en begin ry.
“Maar ek het ‘n buurman saamgehad en ons was besig om oor die politiek te gesels. Daai dae maar wild hier met die politiek gegaan. Ek vergeet skoon van die vaaljapie, en ry om die land, en weer die anderkant op en by die hek uit. En dis net daar waar ek van die vaaljapie onthou. In die truspieëltjie sien ek die vaaljapie makeer, hou stil en vlieg uit. Die vaaljapie staan nog doer oorkant die land waar hy na die lekker baie reën vasgeval het. Maar die snaaksste is, sien ek die hele land se lusern is gesny.
“Toe ek mooi kyk, sien ek die draad agter die bakkie is nooit af nie, net so dun soos die helfte van ‘n naalddikte gerek. Dis toe dat ek onthou dat toe ek binddraad gaan koop het die mannetjie by die koöperasie iets beduie het van die binddraad is op, maar hulle het iets nuuts, en sal oom probeer.?
“Ek gaan graaf in die paneelkassie, kry die koöperasie se slippie en lees wat ek gekoop het: ‘Rekdraad’ lees ek.
“Daai draad het so dyn gerek, toe ek so om die land ry, toe sny dit die lusern mooi stomp af.”
Maar in watter storiebui is oom Anneries vandag?
“Man, ek weet dis te koud hier vir volstruise, en ek dink. Toe onthou ek van ‘n buurman wat met renosters wil boer. Hy het vir hom solank ‘n mak witrenosterbulletjie laat kom om die omgewing gewoond te raak. Van daai dag raak daar toe g’n bees of skaap op sy plaas weg nie.
“Ek vra hom toe of ek die arnostertjie ‘n dag of wat kan leen, lat ek net kyk hoe dit gaan. En toe stuur hy vir Willie, die arnostertjie, oor.
“Sampie en Sameul wat vir Willie aangejaag het, het redelik gevaar, behalwe Willie is deur die grensdraad se hek nog voor iemand kans gekry het om die hek oop te maak. So kom Willie met die opgevoude hek half om hom gewikkel kopskuddend op die werf aangedraf, en toe ook al goed geïrriteer met die onnodige bagasie.
“Ek het pas ‘n aankeerkraal van nuwe teerpale gemaak, en beduie hulle moet Wille daar in jaag. Toe Willie in is, druk ek twee pale deur sodat Willie nou nie te veel ruimte het nie, en ek kan kyk hoe ek die hek los kan kry.
“Maar lyk my Willie het intussen geheg geraak aan daai hek, want toe ek dit afpluk, toe sien ek Willie kyk vir my met daai ogies, en daai kyk is ‘n onlekker kyk.
“Ek besef dis ‘n gawe plek die om baie skielik te makeer, en ek lê die rieme neer na die paalheining. Toe ek met my hande bo druk, en oorvlieg, toe is dit ook net mooi dat Willie skep. En hy skep daai onderste teerpaal dat sy voorste horing tot by die hef in die paal insak, en ‘n hele ent anderkant uitsteek.
“Nog ‘n vars paal daai, en dit gee ‘n hele ent mee voor dit weer reguit maak, en vir Willie op sy agterent te lande laat kom. ‘n Oomblik dink Willie, en retireer toe, en pluk die paal uit die boute uit. In plaas van ‘n hek om sy kop gedrapeer, sit hy nou met ‘n paal soos ‘n lang snor wat weerskante van sy kop uitsteek.
“En toe kom hy weer vir my. Hy sien sleg en gaan vir my reuk. Boonop sit sy oë mos net hier agter sy neusgate, en nou keer die pal ook nog dat hy my kan sien.
“Ou Willie jaag my, en ek hol. Kom Willie te naby, dan swenk ek, en dit neem Willie ‘n rukkie om ook te swenk. Toe kry ek plan en hardloop tussen twee opgeskote bloekoms deur, Willie agterna. Die teerpaal haak, maar net ‘n oomblik toe lê die twee bome morsaf gebreek.
“Dis toe dat ek plan kry. Ek sit af na ‘n lappie grond wat ek wou ontbos vir koring plant. Hier sorg ek dat ek net buite Willie se bereik is, terwyl ek al by die ergste boskasies verbyhardloop, en soms, as daar plek is, deur. Willie agterna, en nog ‘n stuk ontbossing is gedoen.
“Een plek is Willie te gou op my, en ek moes deur al was daar nie plek om te deur nie. Helfte van my klere in daai blinkblaar agtergebly.
“Maar teen daai tyd is my wind op, en ek hoor Willie se asem blaas ook erg. Maar hy kom!
“Maar toe die land nou mooi skoon is behalwe vir ‘n bloekom in die een hoek, strompel ek daarheen. Nou moet Willie my maar klaarmaak, ek is in elk geval dooi. Ek slaan onder die bloekom neer en wag op die einde. Knyp my oë altwee styf toe. Ek hoor Willie blaas, maar dit kom nie nader nie.
“Ek kyk, en sien Willie lê uitgestrek hier langs my op die gras. Die teerpaal, blyk dit, het uiteindelik deurgeknak, en afgeval. En so lê ons maar.
My keël is droog van die hardloop, en ek haal die sakkie met suurklontjies uit wat ek altoos saamdra lande toe om teen dors word te suig.as daar nie ‘n watertjie byderhand is nie.
“Toe ek enetjie in my mond druk, sien ek die pleitende kyk in Willie se oë, en druk vir hom ook enetjie in die kies. Hy kreun eintlik van die lekkerte soos hy dit geniet. So twee suurklontjies elk later, slaan ons voet terug kraal toe, waar Willie ‘n halwe trog water uitdrink, en toe agterkom die suurklontjiesmaak is uit sy mond weg. Hy kom snuffel soos ‘n hanskaller aan my sak, en ek druk hom weer een in die kies.
“Van toe af is ek en Willie groot maters. Snags loop hy elke nou en dan sy paadjies, en ‘n keer het hy op ‘n groepie veediewe afgekom. Hulle het glo die rivier net-net betyds gehaal. Bedags lê hy op die stoep soos ‘n uitgevrete boerboel.
“Niks, maar niks het op daai plaas weggeraak nie. Ook seker vir drie jaar na Willie klaar geleen was, en terug is na sy mense toe.”
Oom Anneries dink diep. “Nou is daar ‘n storie dat van die wildboere self hul renosters laat ‘poach’ omdat die goewerment nie wil toelaat hulle mag die horings jaarliks oes, en so vir hul bewaringsuitgawes help betaal nie. Maar ek weet darem nie, nie as mens eers vir Willie geken het nie.”
