“Hulle het die Wêreldbeker-sokkertoernooi gehou. Hulle het geld en dan verwag hulle van ons om vir dadels te werk,” het Merlyn Mjoni, ‘n stakende onderwyseres van Garankuwa, tydens Dinsdag se stakings in Pretoria se middestad gesê.
Mjoni was deel van ‘n groep lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) wat Dinsdag aan die staatsdiens-staking deelgeneem het.
Volgens Boitumelo Ramahlaha, polisiebeampte, was die regering se aanbod van ‘n R10 verhoging in behuisingstoelae eenvoudig nie genoeg nie.
“Die regering moet by hulle beloftes hou. Hulle het nou die geld na afloop van die Wêreldbeker-sokkertoernooi. R10 gaan my nie gelukkig maak nie,” het Ramahlaha gesê.
Vakbonde eis ‘n 8.6%-loonverhoging terugwerkend tot 1 April en behuisingstoelae van R1000.
Die regering bied ‘n 7% verhoging aan en R630 behuisingstoelaag.
‘n Memorandum is aan die minister vir die staatsdiens en administrasie, Richard Baloyi, oorhandig.
Cosatu verteenwoordig sowat 1,3 miljoen werkers in die staatsdiens.
