Die afgelope jaar het minder terreuraanvalle en terreursterftes as die afgelope vier jaar opgelewer, aldus die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake.
Altesaam 14 971 mense het omgekom in 10 999 aanslae.
Volgens die departement is Al Kaïda steeds die VSA se grootste bedreiging.
Of veel waarde aan hierdie afname geheg kan word, sal net die tyd leer. Verskillende instansies se syfers verskil tradisioneel skerp, en so ook tendense, onder meer omdat definisies van terreur verskil.
Vir Israel is die Palestyne wat hulle vanuit Gaza, en nou ook vanuit die Sinai met mortiere bestook, gewoon terroriste. Vir baie ander mense is hulle vryheidsvegters. Trouens, die lys is oneindig lank, soos die Tamil Tiere wat in Sri Lanka as terroriste voorgehou en beveg is, maar deur baie ander as vryheidsvegters beskou word.
Die probleem word vererger omdat die klassieke terroris die een of ander politieke doelwit nastreef. Terrorisme en politieke terrorisme word dus ook as sinonieme beskou. Die gevolg is dat lande en politici opportunisties die baadjie van fatsoenlikheid, deur terme soos guerrillas, gebruik en sodoende wettige maniere van oorlogvoering beledig.
Ook hierdie aspek is nie meer altyd so duidelik nie. Colombia en Mexiko loop nou erg onder dwelmverwante terreur deur, maar van hierdie kartelle het duidelik bande met terreurgroepe wat suiwer politiek-gemotiveerd is, soms aan die ander kant van die aarde.
Soms maak state van terreurgroepe gebruik om deur sogenaamde afstandbeheer, oorlog teen ‘n ander te maak. Trouens, die VSA het ‘n lys state wat dit as terreurstate beskou, wat nie verwar moet word met state wat van staatsterreur teen sy eie burgers gebruik maak nie.
Gewoonlik word ‘n daad as terreur beskou as die slagoffers nie-selektief onder skoot kom. Soms sal die terroris dié oogmerk probeer verdoesel, deur sy teiken versigtig te kies. Sy doel is byvoorbeeld om Durban se toeriste aan te val en so maksimale publisiteit te verkry, maar doen presies dit deur die bom voor ‘n militêre gebou op die strandfront te plaas. Hy kry die publisiteit, maar regverdig sy teiken deur voor te gee dat hy eintlik ‘n militêre teiken aangeval het.
Terreur is wreed, en daarom dikwels bloedig, want die doel is om aandag te trek, en om met so ‘n groot gehoor as moontlik te kommunikeer. Danksy tegnologie, kan sy wrede daad binne minute dwarsoor die wêreld via die TV in mense se sitkamers afspeel.
Tot verhouding van kriminele moorde, selfs volksmoorde, is die slagoffers van terreur min, maar die metodiek verseker dat die impak baie groter opgeblaas word.
Die terroris is die akteur, en die wêreld sy gehoor…en sy slagoffer.
