Mulder het ook in sy skrywe aangedring dat die komitee op ‘n dringende basis in samewerking met die provinsiale departement, die nasionale departement van Waterwese asook al die plaaslike munisipaliteite en omgewingsspesialiste ‘n plan van aksie instel om die nodige voorkomende maatreëls te tref en om ‘n oplossing te vind vir die suiwering van die besmette water.
“Die situasie moet op ‘n verantwoordelike wyse as ‘n noodtoestand hanteer word aangesien die besmette water ‘n lewensbedreiging vir mens, dier en die natuur in die algemeen inhou. Die suurwater-situasie hou alreeds ook ‘n dreigende gevaar vir voedselsekuriteit, verswakking van grond en strukture in,” het Mulder gesê.
Die Vryheidsfront Plus het sy samewerking aangebied en ook voorgestel dat twee spesialiste op hierdie gebied genader word om die komitee toe te spreek.
