Twee Vrystaatse polisiemanne word vir moord ondersoek nadat hulle glo ‘n 16-jarige seun doodgeskiet het, het die Onafhanklike Klagtedirektoraat Maandag gesê.
Volgens Moses Dlamini, OK-woordvoerder, het die twee konstabels Saterdag glo na Chris Hani Park gery om vir ‘n vermeende aanvaller te soek.
Die verdagte het glo weggehardloop toe hy die polisie sien.
Daar word beweer dat een konstabel die 16-jarige Aukar Sompane geskiet het wat naby hulle gestaan het.
‘n Ambulans is ontbied en die seun is hospitaal toe geneem waar hy gesterf het.
Die polisielede, wat by die Bronville-polisiestasie diens doen, het Maandag in die landdroshof in Welkom verskyn.
Hulle staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling.
Dit is nie duidelik wanneer die twee in hegtenis geneem is nie.
