Die polisie het Donderdag bevestig dat ‘n saak oopgemaak is nadat ‘n skietery by Zindzi Mandela se huis uitgebreek het.
Volgens Eyewitness News het drie gewapende mans probeer om ‘n motor te kaap waarin oudpresident Nelson Mandela se familielede was.
Dié voorval het glo Sondagmiddag, ná afloop van Madiba se verjaardagvieringe, by die huis van Zindzi Mandela plaasgevind.
Die polisie se Govindsamy Mariemuthoo wou nie sê wie die saak geopen het nie. Hy wou ook nie verdere inligting bekend maak oor waar presies die voorval plaasgevind het nie.
Eyewitness News het egter berig dat die mans glo ‘n R5-geweer en handgewere in hul besit gehad het en dat ‘n skietery gevolg het. Die drie het in ‘n swart motor gevlug.
