Vrystaatse koshuisintegrasie skend regte

ImageDERTIEN jaar ná die ANC-oorname in 1994 en 20 jaar ná die einde van segregasie in Suid-Afrika, verkry die debat oor “koshuisintegrasie” aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) ’n nuwe aanskyn. Immers gaan dit nie hier om kritiek jeens segregasionistiese wetgewing soos dit in die ou Suid-Afrika, die suide van Amerika en Britse kolonies in Afrika toegepas is nie, maar om die ordening van die multikulturele samelewing wat oral ter wêreld krake begin vertoon.
In hierdie kort tydjie is die Afrikaner in die naam van “transformasie” meedoënloos van alle politieke mag gestroop en word sy kulturele en selfs ekonomiese voortbestaan vandag bedreig deur die verlies van sy instellings, asook die mees radikale regstellende-aksiewetgewing wat die wêreld nog gesien het, buiten die anti-Joodse wetgewing van Nazi-Duitsland.
Is prof. Frederick Fourie (Volksblad, 29/08/07) daarom werklik eerlik as hy beweer dat die gedwonge integrasie van UV-koshuise om “opvoedkundige redes” geskied? Waarskynlik weet elke leser van dié koerant dat die saamvoeg van rasse- en taalgroepe in koshuise hoofsaaklik om politieke redes geskied en as deel van die algemene transformasieproses wat deur die ANC-bewind afgedwing word.
 
Die huidige koshuisreëling aan die UV het min of meer spontaan tot stand gekom waar Afrikanerstudente verkies om saam in sekere koshuise tuis te gaan en swart studente weer om saam met hul ras- en taalgenote in ander koshuise te woon.
Fourie betreur hierdie sogenaamde “enklawes”, maar kan ons in die omstandighede waar studente wat kultureel en andersins so ver van mekaar verwyder is, werklik die teenoorgestelde verwag? In ’n Europese land soos België het dit onmoontlik geblyk om blanke Christenstudente wat slegs ’n ander taal praat, hetsy Nederlands of Frans, aan dieselfde universiteit te akkommodeer. Daarom het die voorheen tweetalige Katolieke Universiteit Leuven van 1972 af in twee verdeel en bestaan daar vandag twee afsonderlike universiteite net enkele kilometer van mekaar.
Die internasionale ervaring is juis dat taal- en kultuurgroepe hul eie opvoedkundige instellings verkies en dat gedwonge assosiasie, veral waar een groep politiek of kultureel oorheers, as irriterend en selfs verdrukkend beskou word.
Die Marxistiese navorser van Wits Irma du Plessis gaan selfs verder as Fourie in haar pleidooi vir gedwonge integrasie deur ’n striemende aanval op prof. Danie Goosen van die FAK te doen en te beweer dat die pleidooi vir kultuurkoshuise aan die UV neerkom op “die logika van apartheid en Afrikaner-nasionalisme”.
Hierdie amalgaam wat so tipies van die agtergehaalde Engels-linkse denke in ons land is, doen Rip-van-Winkelagtig aan, asof 1994 nooit gebeur het nie.
Om vandag te argumenteer asof die toestande van 20 of 30 jaar gelede nog geld, is om ’n agterhoedestryd te veg. Nêrens erken die voorstanders van gedwonge integrasie en sy meer radikale broer, transformasie, dat die multikulturele model in vele lande ter wêreld ernstige probleme ondervind nie.
Sedert die Sweedse ekonoom Gunnar Myrdal die eerste keer die gedagte van die “smeltkroes” in sy boek An American Dilemma (1944) gepropageer het, is die meeste van sy aannames foutief bewys.
Onderliggend aan Fourie se pleidooi vir “diversiteit” in koshuise is Myrdal se beroemde uitspraak dat blanke diskriminasie die oorsaak van swart mislukking is, wat deur rasse-integrasie reggestel moet word: “Blanke vooroordeel en diskriminasie hou die Neger se lewenstandaard, asook standaarde van gesondheid, opvoeding, maniere en sedes laag. Op sy beurt ondersteun dit weer blanke vooroordeel. Blanke vooroordeel en Negerstandaarde ‘veroorsaak’ mekaar dus onderling.”
Ongeag Myrdal se wêreldvreemde aannames oor rasseverhoudinge en swart prestasie wat deur gedwonge integrasie vanself sou verbeter, moet Afrikaner-magteloosheid en die gevaar wat die meerderheidskultuur, Engels, vir Afrikaans inhou, in ag geneem word as belangrike kwessies by koshuisintegrasie.
Wat ek elders, in navolging van die Keniaan Ali Mazrui, die “Afro-Saksiese” kultuur genoem het, is vandag die dominante kultuur van ons land.
Afrikaans en Afrikanerkultuur verteenwoordig die minderheidskultuur wat wesentlik deur die oorweldigende Afro-Saksiese kultuur van Afro-Amerikaners en die verengelsde elites van Afrika bedreig word. Een van die uitwerkinge van koshuisintegrasie sal wees dat hierdie Afro-Saksiese kultuur die minderheidskultuur sal verdring en dat die resultaat dus nie “meer diversiteit” sal wees nie, maar minder.
Dit is een van die paradokse wat voorstanders van “diversiteit” nie begryp nie: Om alle kulture deur ’n worsmasjien te jaag, produseer nie verskeidenheid nie, maar eenselwigheid. Pleks van multikultuur het ons dan monokultuur. Koshuisintegrasie gaan in dié verband maar net nog ’n stap in die rigting van die totale verengelsing van die UV wees. Ontwortel uit die koshuise, sal Afrikaans net verder as kampustaal kwyn en uiteindelik verdwyn. Sosiolinguïste noem Engels die killer language wat Afrikaans outomaties in ’n multikulturele situasie gaan verdring.
In Fourie se argument dat ’n student aan die UV noodwendig ’n mate van onvryheid aanvaar en moet verduur, skuil ’n totalitêre logika wat indruis teen die demokratiese etos, ten minste in sy Westerse opvatting. Gegewe die feit dat ons regering Zimbabwe as ’n demokrasie beskou en ook by herhaling die Mugabe-bewind as sodanig getipeer het, kan dit wees dat die opvatting van Afro-demokrasie nou in ons land en ook aan die UV geld. In so ’n geval mag dit wees dat Fourie die “noodwendige onvryheid” van assosiasie met sy universiteit as normaal beskou, maar ek meen die meeste Afrikaners, asook die meeste Westerlinge, sal dit verwerp.
Die Westerse begrip van vryheid berus op die selfbeskikkingsreg van die individu en by uitbreiding dié van die kultuurgroep of volk waartoe hy behoort. Daar kan geen situasie wees waar ’n student sy reg op vrye assosasie “prysgee” die dag as hy met die UV assosieer deur ’n inskrywingsvorm in te vul nie. Wat word dan van akademiese vryheid? Het hy nie deur die inskrywingsvorm te teken ook sy reg op vrye meningsuiting weggeteken nie?
Vryheid as selfbeskikking is terug te voer na die denke van Immanuel Kant. Artikel 235 van ons Grondwet waarborg ook ons selfbeskikking as kultuurgroep en as volk. Interessant is dat dié artikel insgelyks deur adv. Pelser opgehaal is tydens die onlangse hofsaak rakende die Pretoriase naamsverandering.
Eie aan koshuisintegrasie is ook naamsveranderings van sodanige koshuise. Immers wil Afro-Saksiese studente nie in koshuise woon met Afrikaanse name nie. Die stelselmatige vervreemding van die Afrikaner se kultuurerfenis druis in teen sowel artikel 235 van ons Grondwet as teen internasionale norme, soos vervat in die Internasionale Konvensie oor Ekonomiese, Sosiale en Kultuurregte (1966). Die eerste artikel van daardie konvensie, wat deur Suid-Afrika onderteken en bekragtig is, bepaal: “Alle volke het die reg op selfbeskikking. Ooreenkomstig daardie reg bepaal hulle vrylik hul politieke status en streef vrylik hul ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling na.” Uit hierdie oogpunt beskou, skend koshuisintegrasie die Afrikanerstudent se menseregte omdat dit hom van sy sosiale en kulturele selfbeskikking ontneem.
Indien diversiteit so aangenaam, nastrewenswaardig en verrykend is, waarom moet dit juis afgedwing word? Volgens Fourie sal die student deur sy gedwonge assosiasie met kultuurvreemdes “ ’n waardering vir hierdie ryk diversiteit kan ontwikkel . . . (en sodoende) sal hy of sy dit ook in die werkplek en breër samelewing na waarde skat.”
Die teendeel mag egter bewaarheid word, dat gedwonge assosiasie lei tot diversiteitsafsku, minagting en rassehaat. Ons het gesien hoe swart en wit kinders wat heen en weer tussen skole in Amerika gebus is, die vlak van skoolintegrasie oor vyftig jaar van 23% tot 17% laat daal het. Wil ons Amerikaanse rasseverhoudinge, wat deur intense spanning en agterdog gekenmerk word, as model neem en slaafs navolg deur Amerikaanse metodes op ons kampusse toe te pas?
 
Hierdie artikel het op 19 September 2007 in Die Volksblad verskyn. 

отбеливание зубов москваФільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae