Inwoners het drie klaskamers, ‘n personeelkamer en stoorkamer by die Sebitlwane-hoërskool tydens ‘n betoging oor dienslewering aan die brand gesteek.
Vier skole is in Mei vanjaar afgebrand toe inwoners begin oproer maak het oor ‘n teerpad. Die gemeenskap eis dat die grondpad wat hulle dorp met Ganyesa verbind, geteer word.
Die LUR vir Onderwys, Johannes Tselapedi, het die skole gesluit en aangevoer dat die situasie nie bevordelik is vir onderrig nie.
Cosatu se provinsiale sekretaris, Solly Phetoe, sê die besluit benadeel die beeld van die plaaslike gemeenskap. Die provinsale leier van COPE, Nikiwe Num, sê die sluiting van die skole is onverantwoordelik, en die regering behoort eerder in gesprek te tree met die inwoners van Tlaakgameng.
