“Die SABC verwerp die artikel ‘SABC-nuusbaas Molefe verbied Mbeki’, wat in vandag se uitgawe van die Sunday Times verskyn het, met die veragting wat dit verdien,” het Kaizer Kganyago, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“Die artikel… is heeltemal vals, is daarop gemik om te mislei, en is ongegrond.”
Die Sunday Times het berig dat die ANC se hoofkantoor na bewering vir Molefe beveel het om geen onderhoude met Mbeki of enige berigte oor hom uit te saai nie.
Die SABC se nuushoof, Phil Molefe, het na bewering ‘n vergadering met senior nuuspersoneel byeengeroep, waar hy aan hulle gesê het Mbeki se verskyning op SABC-televisie is nadelig vir die ANC-leier, pres. Jacob Zuma.
“Daarom wil ons aandui dat daar nooit enige instruksie aan enigiemand gegee is of enige plan was om oudpres. Mbeki van ons platforms te verbied nie,” het Kganyago gesê.
Hy het gesê die SABC het geen instruksies van Luthuli-huis of van Mahlambandlovu ontvang nie.
Die SABC word gelei deur sy redaksionele beleid, en sal nooit enige instruksies van enige persoon of organisasie aanvaar nie, het hy gesê.
