Die twee hofsake handel oor mynregte, en beide spruit uit die staat se verklaring van mineraleregte tot nasionale bate. Hoewel die regering dit ontken, is die land se sogenaamde ondergrond genasionaliseer.
Vroeër het ‘n plaas uit die bogrond en die ondergrond bestaan, en dit het dikwels gebeur dat ‘n plaasverkoper die ondergrond uitgehou het …net om op ‘n dag te besef hy besit dit nie meer nie.
Dikwels raak dit nie veel meer nie as dat die boorgatwater op sy plaas nou ook aan die mense van Suid-Afrika behoort en hy daarvoor moet betaal. Dikwels was dit egter ook katastrofies, soos iemand wat sy aftreegeld spandeer om ‘n hoewe met ‘n soutpan te koop. Die aankoopprys is op die waarde van die soutpan en die soutopbrengs gebaseer. Skielik is die soutpan net vir kyk. Hy kan wel om ‘n permit of mynreg aansoek doen, maar allerlei vereistes soos bemagtigingsvennote maak die transaksie dikwels onlonend. Boonop kan sy aansoek misluk, soos dikwels gebeur, en hy kan skielik vind die aansoek is aan ‘n vreemde toegeken. En hy mag nie toegang weier nie.
In April het ‘n aansoek om appél van SA Soutwerke, waarvan die omstrede LUR, John Block ‘n direkteur is, misluk. Volgens ‘n hofbevel is sy maatskappy gelas om ‘n soutpan in die Kalahari wat onwettig beset was te ontruim. Ernstige bewerings oor ongerymdhede met die toekenning van die mynreg is gemaak.
In die jongste saak het regters CB Cillié en MC Mocumie uitspraak gelewer in ‘n saak waar ‘n wildboer van Boshof op ‘n dag ‘n hek in sy wildwerende heining aangetref het, en afgekom op voorbereidings van ‘n maatskappy wat gruis op sy plaas wou myn. Die boer is meegedeel dat die maatskappy ‘n mynreg bekom het, en dat die boer hulle nie kan verhinder om die gruisgroef te bedryf nie.
Die maatskappy se eienaar, ene Mzwandile Shwababa, moet die regskostes betaal, ook van sy eie mislukte aansoek om die boer te verplig om hom toegang tot die wildsplaas te gee. Die mynreg is boonop tersyde gestel op grond daarvan dat daar nie voldoende met die boer gekonsulteer is nie. Die Departement van Minerale moet help betaal.
Verskeie grondwetlike aspekte, soos dat die mynaktiwiteite minstens vir ‘n tyd lank in wese die landbouer van sy reg ontneem om op ‘n deel van sy eie grond te boer, is nie nou bereg nie. Die aansoek is rondom ‘n tegniese punt besleg.
Die praktyk wat skynbaar tot die twee hofsake gelei het, laat ongelukkig die deur vir korrupsie wawyd oop, en dit is daarom goed dat die howe ingryp.
Die staat se houding laat egter rooi ligte flikker oor wat met die verklaring van landbougrond tot nasionale bate bedoel kan word. Die ontkenning dat ondergrond genasionaliseer is, het in die praktyk geen betekenis nie. Boonop lei dit dikwels, soos in die geval van soutboere, daartoe dat die bogrond implisiet ook genasionaliseer is.
Agri SA het hom tot ‘n hernude poging verbind om die kwessie van grondhervorming aan te spreek. Gee die regering egter nie kop oor wanpersepsies en foutiewe syfers nie, gaan dit nog lank ‘n punt van dispuut bly.
