Turkse vloermoere namate Armeense volksmoord se eeuherdenking naderkom

Die Turke se volksmoord op tussen ‘n miljoen en een en ‘n half miljoen Armeniërs spook steeds by die Turkse owerhede, al word dit na amper ‘n 100 jaar steeds ontken. Armeniërs is besig met voorbereidings om die geleentheid, wat in 1915 in alle erns begin het, se “eeufees” te herdenk.

Die jongste Turkse vloermoer het die aandag van Verslaggewers sonder Grense getrek toe Turkse Radio en TV Opperraad beslis het dat ‘n program wat vir die private stasie, Hebertürk, vervaardig is, nie uitgesaai mag word nie . Een van die deelnemers, van Armeense herkoms, het die doodsonde gepleeg deur terloops na die volksmoord te verwys. Die program sou op 13 Julie uitgesaai gewees het.

Die opname is in Maart gedoen, enkele dae na die Amerikaanse kongres se buitelandse sakekomitee ‘n resolusie aanvaar het om die gebeure van 1915 tot ‘n volksmoord te verklaar.

In plaas van om die program uit te saai, moet die TV-kanaal nou ‘n program uitsaai wat deur die Opperraad voorgeskryf word.

Intussen word berig dat Armeniërs reeds ver gevorder het in die versameling van bewysstukke vir die volksmoord, wat onder meer argiefmateriaal oor lang uitsettingsmarse bevat wat so beplan is dat die Armeniërs dit nie sou kon oorleef nie. Ander is gewoon sistematies afgemaai.

Vir die Turke, wat dekades lank ‘n verturksing van die heterogene bevolking beoefen het, was die Armeniërs ‘n groter klip in die maag as die Koerde, wat net soos die Koerde van Indo-Germaanse herkoms is. Die Armeniërs, anders as die Koerde, is tradisioneel Christene na dié volk onder die heel eerstes was wat gekersten is.

Suid-Afrika het vroeër vanjaar nouer betrekkinge met Turkye aangeknoop.

online slotОлександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae