Gama was die hoof van Transnet se vragafdeling, maar die geval is meer bekend oor die verbintenis met die huidige minister van Kommunikasie, genl. Siphiwe Nyanda.
Dié aspek is maar een van verskeie klagtes waaraan Gama skuldig bevind is. Dit behels die toeken van ‘n tender vir sekuriteitsdienste aan ‘n firma wat deur Nyanda besit is. Die ander klagtes hou verband met tenders vir lokomotiewe, en ‘n klag oor ‘n verbrokkelde verhouding met die direksie. Hierdie klag is bygevoeg na Gama se regspan volgehoue aanvalle op die direksie geloods het na die dissiplinêre proses begin het.
Nyanda het self die aandag op hom gevestig, toe hy, as minister van Kommunikasie en dus tegnies nie betrokke nie, hom openlik daarvoor beywer het dat Gama as die nuwe bestuurshoof van Transnet aangestel word.
Nyanda se naam het opnuut opgeduik toe die vakbondbaas, Zwelinzima Vavi die minister in verband met ‘n hotelrekening van korrupsie beskuldig het. Nyanda het met ‘n lastergeding teen Vavi begin, maar laat vaar hoewel Vavi nie volkome onder ANC-druk geswig het om sy bewering terug te trek nie, en eerder sy rug styfgemaak het.
Nyanda se naam het ook onder die eerste geledere opgeduik wat ‘n storm ontketen het oor die peprduur vuurawens wat deur ministers aangeskaf is.
Die pers berig vandag dat die SABC-raad begin het met ‘n nuwe proses nadat die raad se voorsitter, dr. Ben Ngubane, opdrag gegee het dat Phil Molefe as nuushoof aangestel word. Ngubane het duidelik onregmatig opgetree, maar daar was geen aanduiding dat die minister – Nyanda – Ngubane voor stok gekry het nie.
Of ‘n minister soos Nyanda geskik is om as minister te dien in ‘n land wat nou die gordel moet intrek, is ‘n ope vraag. Dit het pas aan die lig gekom dat Suid-Afrika se regstreekse inkomste uit die aanbieding van die Fifa-toernooi waarskynlik in die orde van R15 miljard sal wees, teenoor ‘n uitgawe van R40 miljard. Hoewel dié sommetjie nie so eenvoudig is nie, is dit wel duidelik dat iemand vir ‘n ruk lank pa moet staan vir die tekort wat na verwagting eventueel deur onregstreekse voordele ‘n wins kan oplewer.
Ongelukkig het Nyanda nie alleen Vavi se weerlig op hom getrek nie. Ook die minister van Samewerkende regering, Sicelo Shiceka, het na Vavi die vinger na hom gewys het, verdere weerlig getrek oor die verlengde kontrak aan ‘n peperduur en omstrede waarnemende munisipale bestuurder in Ventersdorp. Ook Shiceka was voor die Vavi-vingerwysing in die nuus oor ‘n agterstallige munisipale rekening vir sy huis in Midrand, en sy aanvalle op die Belastingbetalersvereniging, waar hy die propaganda-oorlog loshande verloor het.
Al het die ANC formeel die geledere agter hierdie twee ministers gesluit, hou hul omstredenheid steeds die potensiaal in om die ANC se alliansie met Cosatu ‘n ongemaklike alliansie te maak.
