Mariani het egter laat blyk dat hy bewus is van die botsing met Artikel 16 en erken dat sy voorstel "afwyk" van die wet, maar vir die afgevaardigdes is die "veilige en vinnige" manier waarop DNS-inligting identiteitsbedrog sal uitskakel, die sterker oorweging. Mariani het ter ondersteuning verwys na ‘n verslag wat die UMP onder leiding van senator Adrien Gouteyron onlangs uitgebring het waarin die duidelike toename in bedrog uitgespel word.
Volgens Gouteyron is die egtheid van identiteitsbewyse onder verdenking. "In sommige lande soos Senegal, die Ivoorkus, die twee Kongo’s, Togo, Madagaskar en die Comore is tussen 30% en 80% van alle bewyse vervals." Nietemin was daar lede van die UMP wat, soos die Sosialiste, nie te vinde is vir die voorstel nie.
François Goulard (UMP) het benadruk dat daar in die Franse reg absoluut geen aanspraak in biologiese terme bestaan nie. "’n Mens kan ‘n kind sonder meer erken selfs al is ‘n mens nie die biologiese vader nie," het hy gesê. "Om dit van buitelanders te verwag is omstrede en verkeerd." Die Sosialiste wou weet watter laboratoria in dié betrokke lande die toetse gaan onderneem. "Hoe weet ons die toetse gaan nie ook vervals wees nie?" het Serge Blisko gevra.
In Europa is biologiese verwantskap as basis vir familieverwantskap tans ook problematies. Die Britse mediese publikasie, The Lancet, beweer dat soveel as 2,7% van Europese geboortes onder "vals" verwantskap aangemeld word en dat biologiese vaderskap dus nie die kind se wetlike status tans beïnvloed nie.
Die oortreding om genetiese toetse buite die wet te onderneem is vir Franse sedert 2004 strafbaar met ‘n boete van 15 000 euro of die gevangenis. Om daardie rede gebruik bekommerde vaders klandestien die dienste van Switserse, Belgiese of Spaanse laboratoriums wat hulle via die internet nader om vas te stel of hul telge hul eie is. Die koste daarvan beloop tussen 200 en 600 euro.
