Cope ‘gedope’ om te ‘hope’

In beginsel pak Cope nou ‘n belangrike saak aan – om ‘n beleid vir die party te vind. Leiers sal eers later gekies word.

Of dit in die realiteit van Suid-Afrikaanse politiek die regte punt is om te begin, sal die tyd leer. Beleid weeg eenvoudig nie in Suid-Afrika swaar nie, soos onlangs ook opgemerk deur die Vrystaatse leier van die DA.

Dit is ook pas weer duidelik gedemonstreer toe die ANC se jeugleier, Julius Malema, ‘n voorlegging oor nasionalisering voor ‘n parlementêre portefueljekomitee gemaak het en goed ontvang is. Malema het selfs ter stawing uit die Freedom Charter aangehaal. Kort hierna ontken pres. Jacob Zuma dat die ANC ‘n nasionaliseringsbeleid het.

Dat Cope so lank kon bestaan en selfs in die parlement verteenwoordig kon wees sonder ‘n beleid, is ook nie nuut nie. Ook die ID van mev. Patricia de Lille het ‘n geruime tyd bestaan voor die party homself oplaas as deel van die sosiaal-demokratiese ideologie verklaar het. Nou gaan die ID skynbaar by die liberaal-demokratiese DA aansluit.

Ander faktore soos die charisma van ‘n leier of ‘n historiese verloop speel duidelik ‘n groter rol, en verklaar deels ook hoekom Suid-Afrika, sy groot selfverklaarde Christenbevolking ten spyt, geen groot Christen-demokratiese blok het nie, soos wél in Europa die geval is.

Cope is om verskeie redes ‘n groter rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek as wat sy getalle aandui. Die euforie waarmee dit van stapel gestuur is, het dadelik ‘n groot impak op die laaste verkiesingsuitslae gehad. Partye soos die UDM, IVP en veral die ACDP is swaar deur die euforie getref. Dit is al drie partye wat deur hul leierskapstyl grootliks om die persona van individue gebou is, individue wie se politieke brandstof boomskraap begin word.

Selfs die DA is veral buite die Wes-Kaap geraak hierdeur deurdat baie ontnugterde kiesers waarskynlik hul kruisies weens die Zille-euforie agter die DA sou trek as Cope nie soos ‘n goed-georkestreerde massa-euforie oor die land geswiep het, en ‘n milde media-vakansietydperk beleef het nie.

Ironies het Zille se anti-Zuma-veldtog waarskynlik weer baie swart potensiële Cope-ondersteuners terug in die ANC-kraal gedryf. ‘n Wit vrou wat ‘n swart man met baie vroue so disrespekvol behandel gaan in tradisionele geledere gewoon nie goed af nie.

Kort na Cope se toetrede tot die parlement het dit egter geblyk dat sake nie wel was nie. Prominente leiers het gedros, en faksies het ontstaan.

Uiteindelik het die twee vernaamste stigtersfigure, Lekota en Shilowa, teenoor mekaar te staan gekom. Vir Lekota is dit ‘n tipe de ja vu. As aangestelde Vrystaatse premier het die destydse president, Nelson Mandela, gehoop dat sy vriend en vertroueling die steun van die mense sou kry. Lekota kon egter nie, ten spyte van inmenging van Mandela, die populisme van Ace Magashule stuit nie.

Nou herhaal die geskiedenis hom. Die afloop van hierdie leierskapstryd is belangrik vir die toekoms van die party.

Ten regte of ten onregte geniet Lekota tradisioneel baie blankes se steun, en speel hy ‘n belangrike rol – danksy die huidige stelsel van basies aangestelde leiers – om van Cope ‘n nie-rassige party te maak. Byt Lekota die onderspit, en verlaat hy die party, sal Cope onder Shilowa waarskynlik net nog ‘n swart party met ‘n charismatiese leier wees. Die siklus, soos met die UDM na die vertrek van Roelf Meyer, sal voltooi wees.

Of die party sal groei en die ANC beduidend verswak, of soos die UDM sal krimp en stagneer, sal net die tyd leer. Vir Shilowa, as Xhosa, te midde van ‘n ANC onder ‘n “hundred percent Zulu boy” en tekens van ongelukkigheid, is die tyd dalk meer geskik vir Shilowa as toe Holomisa die pad aangedurf het.

Misluk Cope as nie-rassige party sal die vertroue in nie-rassige politiek ‘n knou weg hê, en sal partye wat op hoofsaaklik blanke belange fokus waarskynlik in statuur van belangrikheid groei. Cope se lot raak die hele Suid-Afrikaanse politieke landskap.

гайковерт воздушныйалександр лобановский супермаркет класс

Maak 'n opvolg-bydrae