Chaos het by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Howard-kollege uitgebreek toe die uitslag van die ANC-jeugliga se kongres Maandagoggend bekend gemaak is.
Sommige afgevaardigdes het uit die saal gestap en gekla oor knoeiery tydens die verkiesing.
Gedurende die verkiesingsproses is afgevaardigdes in twee groepe verdeel. Een van die groepe is deur Bheki Mtolo gelei.
Mtolo is ‘n getroue ondersteuner van Julius Malema en het teen Wandile Mkhize gestaan vir die posisie van sekretaris.
Die Mtolo-faksie het al vyf die top-posisies ingepalm met ‘n voorsprong van slegs enkele punte. Die afgevaardigdes wat uitgestap het, meen dat sommige kandidate opsetlik gediskwalifiseer is om dit makliker te maak vir die Mtolo-faksie om te wen.
Dit sal nou bykans onmoontlik wees om met die kongres voort te gaan, aangesien sowat 20 addisionele lede steeds verkies moet word.
Leiers van die ANCYL het Maandagoggend hulle hande vol gehad om almal gelukkig te hou en die afgevaardigdes terug in die saal te kry.
