Irakse veiligheidsmagte wat die Saoedi-burger aanhou, bekend as Azam Abdullah al-Qahtani Saleh, het gereël dat The Associated Press met hom ‘n onderhoud by ‘n ongeïdentifiseerde regeringsgebou in Bagdad voer.
Hy het gesê hy het aanvanklik in 2004 na Irak gegaan om te veg teen Amerikaners en is gewerf deur Al Kaida.
‘n Irakse veiligheidsamptenaar met kennis van die ondersoek sê al-Qahtani is in hegtenis geneem na ‘n gesamentlike VSA-Irak-operasie in April waar twee ander Al Kaida-hoofverdagtes gedood is. Die amptenaar wou nie sy naam bekendmaak nie aangesien hy nie toegelaat word om besonderhede van die saak te bespreek nie.
Dokumente is in die huis gevind waar die twee gedood is. Dit is onder meer geskryf deur al-Qahtani en bevat detail van ‘n plan van aanvalle wat geloods sal word op die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Dit het gelei tot sy arrestasie op 3 Mei, het die amptenaar gesê. Irakse owerhede het Maandag dié besonderhede openbaar.
“Ons het gepraat oor die moontlikheid van wraak vir die beledigings teen die profeet deur Denemarke en Holland aan te val,” het al-Qahtani aan AP gesê. “Die doel was om die Deense en die Nederlandse spanne en aan te val asook hulle ondersteuners,” het hy bygevoeg.
“As ons nie die spanne kon bereik nie, dan sou ons die ondersteuners teiken,” het hy gesê, en bygevoeg dat hulle gehoop het om gewere en motorbomme te gebruik.
Dit is nie duidelik of die militantes die vermoë het om wat nogal ‘n gesofistikeerde plan was, in werking te stel nie – ‘n ingewikkelde aanval ver van hulle tuisbasis. Die Irakse veiligheidsamptenaar het gesê geen stappe is geneem om die plan in beweging te stel nie, soos byvoorbeeld deur die verkryging bommateriaal.
Die vermeende militant, wat ongeveer 30 jaar oud is met ‘n snor, geklee in ‘n oranje gevangenisuitrusting, het geen uiterlike tekens van besering of misbruik getoon nie. Hy het nie senuweeagtig of bang voorgekom nie.
Al-Qahtani het gesê hy is deur die Amerikaanse magte in 2007 gevang en by Camp Bucca aangehou totdat hy in 2009 vrygelaat is. ‘n Amerikaanse militêre amptenaar, Keli Chevalier, het bevestig dat die Amerikaanse magte ‘n man met die naam van Abdullah al-Azam Saleh Qahtani gevange gehou het en dat hy by Camp Bucca aangehou is.
Die Amerikaanse militêre amptenaar het al die ander vrae oor al-Qahtani na die Irakse regering verwys.
In 2006 het 12 spotprente van die profeet wat in ‘n Deense koerant verskyn het, gelei tot woedende betogings in Moslemlande.
In Nederland, is ‘n anti-Islam party die land se vinnigste groeiende politieke beweging. Die leier, Geert Wilders, noem die Koran ‘n “fascistiese boek” en wil dit verbied sien in Nederland. Sy 2008-kortfilm het baie Moslems aanstoot gegee deur die afwisseling van Koraanse verse met beelde van terrorisme deur Moslem radikale.
Hy meen ook dat die klere wat Moslems oor die algemeen dra, soos kopdoeke, verbied behoort word omdat hulle die Nederlandse landskap “besoedel”.
Wilders se gewildheid is deels ‘n reaksie op ‘n vlaag van Islamitiese radikale geweld. In 2004, het ‘n jong Moslem die Nederlandse filmmaker Theo van Gogh vermoor. Hy het ‘n kort film geproduseer oor die beweerde onderdrukking van Moslemvroue.
Al-Qahtani het gesê dat die Wêreldbeker-sokkertoernooi beskou word as ‘n hoë-profiel internasionale gebeurtenis en Suid-Afrika is waarskynlik makliker om na te ‘n reis as een van die twee Europese lande wat hulle wou teiken.
Vish Naidoo, ‘n woordvoerder vir Suid-Afrikaanse polisie, het Dinsdag gesê dat Suid-Afrikaanse beamptes nog steeds wag op woord van hul Irakse kollegas oor die arrestasie. Hy sê die enigste inligting wat Suid-Afrikaanse amptenare het is mediaverslae.
FIFA het in ‘n verklaring Dinsdag gesê hulle wil nie kommentaar oor enige spesifieke potensiële bedreigings lewer nie.
