Die VF+ Studente hou vandag ‘n verkiesing op die kampus van die UP. Stembriewe sal in die klas uitgedeel word wat ‘n paar kort vrae rondom Malema bevat. Die opskrif van die stembrief lui “Dilemma Malema”. Die stempunt sal in die Piazza wees waar studente se gevoel rondom Julius nagevors sal word.
Dawie Diamond, VF+ studente TUKS se voorsitter, het verduidelik dat Malema se onverantwoordelike uitsprake studente ook negatief beïnvloed en sorg vir rassepolarisasie op die kampus. “Malema se uitsprake is onverantwoordelik en studente moet ook in die debat tree om Malema se tirade te stuit,” het Diamond gesê.
Een van die stembrief-vrae lui dan ook as volg: “Sou u ‘n aksie ondersteun waar daar ‘n plakkaat van Julius Malema opgesit word en deur studente met veerpyltjies gegooi word?” VF+ studente meen dat dié ‘n metode sal wees om studente van hul spanning rondom Malema te verlig.
Diamond het ook verder gesê dat die VF+ studente ‘n mandaat van studente wil verkry om aksie en verdere optrede teen mnr Malema te bewerkstellig.
