Sal die regte Suid-Afrika asseblief opstaan

“Bloemfontein én platteland slaggereed vir WB.” So lui ‘n lokblokkie op Volksblad se voorblad.

Ook op die voorblad gee die minister en kommissaris van polisie Suid-Afrikaners en die buiteland die versekering dat die polisie alles onder beheer het nadat ‘n groep regses aangekeer is wat glo met bonontploffings in swart woongebiede die sokker sou probeer ontwrig het.

Volksblad se bekroonde rubriekskrywer, Gert Coetzee, het gister uitgewei oor hoe positief hy oor die komende toernooi is, en dat Suid-Afrika dit met groot sukses gaan aanbied.

Terwyl daar positiewe tekens is, is daar ook vandag, Vrydag, lang ritse vullissakke op sommige Bloemfonteinse sypaadjies wat al Woensdag opgepik moes gewees het. Die vorige week, tydens die amptelike staking, is dit wel verwyder.

Ook in vandag se Volksblad is ‘n foto en berig oor ‘n slaggat wat inwoners al rooi laat sien.

Baie van die beoordeling dat alles tydens die toernooi vlot sal verloop, is gebaseer op die aannames dat alles tydens die aanbied van die wêreld-rugby en Krieket-toernooie vlot verloop het.

Dit is om appels met pere te vergelyk. Die sokkertoernooi is, volgens genl. André Pruis 70 keer groter as die vorige twee saam. Tydens die krieket het genoeg sake ontspoor om ‘n eenvoudige stelling dat alles vlot verloop het, onder verdenking te plaas.

Die afskakeling van aftastingtoerusting omdat die netwerke te stadig was wat moes kontroleer dat kaartjies nie vervals is nie, is een. ‘n Gekontrakteerde mediaskakelfirma wat nie iemand in diens gehad het wat die amptelike wedstrydmediaverslae vir die wêreldmedia kon opstel nie, is nog een. Uiteindelik is ‘n vrywilliger van ‘n ander firma gebruik.

Dié het egter nie toegang gehad tot enige woordverwerker nie, en is boonop deur ‘n senior IKK-ampsbekleër uit die sigveld verwyder omdat hy dit in sy per uniform durf waag het om krieket te kyk. Die man moes toe agter die pawiljoen, soos ‘n blinde, die amptelike mediaverslae opstel, en na die wedstryd vervaard iemand soek om dit te tik.

Ander vrywilligers het net soveel stories vertel wat die hare laat regop staan.

Hoewel dit ondenkbaar is dat sulke blapse herhaal sal word, is dit tog kommerwekkend dat die volgende toernooi oneindig groter is. Verder was daar geen poging om inligting en voorstelle te bekom by die mense wat aan die kontakvlak van sake wat verkeerd geloop het, blootgestel was nie.

Verskeie sake tydens die Konfederasiebeker, veral oor hoe misdaadsake hanteer is, het kommer gewek. Omdat die Konfederasie-beker met ‘n besoekende Leeu-toer saamgeval het, was dit ook moeilik om altyd te bepaal of misdaad met die rugby of sokker verband gehou het. Kort hierna het die Vrystaatse polisiekomissaris ‘n mediaverbod teen Volkblad en sy gemeenskapskoerante ingestel. Dit is intussen opgehef, maar uit ‘n onlangse insident op die Lesothogrens lyk dit asof misdaad steeds selektief na die media gekommunikeer word.

Die smoor van inligting oor misdaad aan die een kant, en die groot klok oor optredes teen regses laat dit ook klink of ‘n politieke filter as norm gebruik word, wat soos gebruiklik, die gevaar van polarisasie verhoog.

Boonop lyk die kanse goed dat Vrystaat landbou se beplande hofsaak teen die regering oor gebrekkige beveiliging van burgers sal voortgaan.

Van die vernaamste redes wat aangevoer word dat alles tydens die toernooi vlot gaan verloop, is dat die stadions betyds klaargebou is. Niemand sal stry dat dit ‘n grootse poging geverg het nie. Vergeleke met die omvang van die toernooi, is die stadions net ‘n molshoop teen die berg.

Wat meer kommerwekkend is, is in hoe ‘n mate die inhoud van die gasheerstad-ooreenkomste teen die bors gespeel word. Af en toe glip brokkies uit, soos die afstande van die stadion waar straatsmouse sake mag doen. Onlangs het dit via ‘n SABC-TV-nuusbulletin aan die lig gekom dat dit selfs boomplant- en vullisherwinningsaksies insluit om die sokker se koolstof-voetspoor teen te werk.

Van besondere boomplantaksies, veral om met die sokker verband te hou, is nog min gesien. In Bloemfontein het die munisipaliteit vierkant vasgeskop teen planne van ‘n stedelike Bewarea om ‘n herwinningsaanleg in bedryf te stel.

Hoeveel ander vereistes is daar in hierdie ooreenkomste waarvan die publiek nie kennis dra nie?

 

гофра для отвода выхлопных газов генераторалобановский александр игоревич

Maak 'n opvolg-bydrae