David Makhura, ANC-sekretaris in Gauteng, het Donderdag ’n verslag oor dienslewering aan die party se 11de konferensie in Pretoria voorgelê.
Die konferensie in die Tshwane Events Centre is deur opruiende faksiegeskille gekenmerk waar sprekers kort-kort deur opponente uitgejou is.
Volgens Makhura is daar ongekende wedywering tussen die party se streekleiers, burgemeesters, raadslede en munisipaliteite om staatsfondse te bekom. Dit was gister duidelik sigbaar.
Paul Mashatile, ANC-leier in Gauteng, moes die onrustige gehoor maan om nie die geleentheid te ontwrig nie.
Sowat 42% van meer as 80 000 ANC-lede in die provinsie is glo werkloos. Dienslewering in Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane word erg in die wiele gery omdat politici sonder ophou eerder oor poste baklei as om hulle werk te doen.
