Na etlike dae van bespiegelinge oor die moontlikheid dat produktiewe landbougrond as nasionale bate verklaar en genasionaliseer kan word, is TLU SA verstom oor die feit dat daar nog geen amptelike standpunt van die President of enige van die Ministers is ter opheldering van die situasie nie. “Ons het kennis geneem van die Direkteur-Generaal van Grondsake se versekering dat geen nasionalisering op die tafel is nie, maar hy is slegs ‘n amptenaar wat beleid uitvoer, en ons sal graag van die beleidmakers ‘n standpunt hieroor wou verneem,” sê mnr. Ben Marais, president van TLU SA. “Bowendien was dit juis die Direkteur-Generaal wat die nuwe konsep aan die portefeuljekomitee verduidelik het, en dit bring sy skielike ontkenning van die moontlike nasionalisering onder verdenking.”
Mnr. Marais sê dat dit lyk of hierdie die alternatiewe plan is wat die regering bedink het in die plek van die omstrede Onteieningswetsontwerp van 2008 wat teruggetrek is. “Hierdie voorstel is net so onaanvaarbaar as die destydse voorstel. Trouens, dis erger, aangesien dit die hele landbougrond dadelik met een handeling in die hande van die Staat plaas,” sê mnr. Marais.
“Hierdie voorstel is direk in lyn met die Freedom Charter se politieke doelwit van “The land shall belong to those who work it”. Dit is ‘n model wat sy beslag gevind het in die voormalige Sowjet-Unie, wat internasionale beleggers sal afskrik en wat binnelands onsekerheid bring deurdat boere nie verder in hulle eie plase wil belê nie. Sou so ‘n waansinnige plan deurgevoer word, sal Suid-Afrika byna onmiddellik in ‘n voedselchaos gedompel word, aangesien boere nie meer krediet kan kry teenoor hulle bates om daarmee oeste in die grond te kry nie. Voedselsekerheid sal nie meer in gedrang wees nie, maar totaal vernietig word.
“Dit kom neer op ‘n ‘meer beskaafde’ Zimbabwe-model,” waarsku mnr. Marais. Waar praatjies van “skiet die boere want hulle is verkragters” beslis ‘n invloed het op plaasaanvalle, sal nasionalisering van landbougrond, ongeag of alle landbougrond of slegs tien persent van die landbougrond genasionaliseer word, die persepsie skep by dieselfde ongebreidelde massa dat die grond aan “ons” behoort, en sal lei tot brutale plaasbesettings op die Zimbabwe-wyse, sê mnr. Marais.
“Daar is tans net te veel praatjies van nasionalisering: minerale, myne en landbougrond. Die regering behoort onverwyld rekenskap te gee wat is die eerlike pad wat hy met Suid-Afrika loop, maar die onsekerhede moet nou vir eens en vir altyd ondubbelsinnig uit die weg geruim word,’ sê mnr. Marais.
