Gesondheid deur ongesondheid aangespreek

Die nuus dat die Vrystaatse Gesondheidsdepartement ‘n tekort van R700 miljoen het om onder meer  toerusting op te knap en te vervang, verbaas niemand nie.

Die gesondheidsdepartement se geldkrisis, soos ook die gesondheidsdepartemente van die meeste ander provinsies, sleep immers al jare voort.

‘n Onlangse berekening het aan die lig gebring dat sake vir die nasionale en provinsiale gesondheidsdepartemente min of meer gelyk sou breek as die agterstallige fondse van uitstaande rekeninge, destyds sowat R9 miljard, verhaal sou kon word. Dit sluit die bedrae in wat buurlande soos Lesotho verskuldig is vir die behandeling van hul burgers, en wat ingevolge bilaterale ooreenkomste betaal moet word.

Volgens berigte woon ongeveer twee derdes van Lesotho se burgers in Suid-Afrika. Suid-Afrika het onlangs ‘n groot skenking aan Lesotho gedoen vir die bou van ‘n pad, terwyl Suid-Afrika se eie paaiebegroting hopeloos ontoereikend is. Trouens, die AA het enkele jare gelede gewaarsku dat daar teen die huidige tempo oor dertig jaar nie meer paaie gaan wees om oor te kla nie.

Intussen is ‘n hofsaak tussen Vrystaat Landbou en die regering op die rol om die regering te dwing om sy veiligheidspligte teenoor sy Vrystaatse burgers, in die besonder op die grens met Lesotho, na te kom.

In vandag se Volksblad word berig oor ‘n Suid-Afrikaanse vragmotoreienaar wat sy gesteelde vragmotor in Lesotho opgespoor het, en waar die hof die vragmotor nou al twee keer aan die dief terugbesorg het om te gebruik tot die saak voorkom. Dit sal jare neem. Die dief ry ‘n Mercedes en dubbelkajuit-bakkie. Die wettige eienaar van die vragmotor moet nou tienduisende rande vind om sy vragmotor mee te vervang.

Van die vroegste Voortrekkerdae was daar konflik tussen Suid-Afrikaners en die mense van Basotholand, en verskeie oorloë is gevoer. Veediefstal en die smokkel van dagga oor die grens was waarskynlik ononderbroke ‘n probleem, en het ‘n groot invloed op verhoudinge gespeel. Die Bloemfonteinse taxi-vereniging was al op interdepartementele forums onder die leiding van die Departement van Justisie bitter kwaad oor die tempo waarteen gesteelde en gekaapte taxi’s hul weg na Lesotho vind, en die feitelike onmoontlikheid om dit terug te kry tensy korrupte polisiemanne daar omgekoop word.

Tog was daar – ook in die verlede – gevalle waar Vrystaatse boere die grens oorgesteek en ter wille van goeie buurmanskap grond vir die Lesothoboere gaan ploeg het. Daar was ander positiewe gebeure, soos die uitlewering van ‘n plaasmoordenaar.

Bilaterale verhoudings kan nie ‘n elitistiese ding wees waar die twee regerings hartlik met mekaar is, maar die bevolkings as’t ware oor geweerlope vir mekaar gluur nie.

Genoeg goggas soos swak bestuur in die Vrystaatse Gesondheidsdepartement het al aan die lig gekom dat die skuld vir die geldelike geploeter nie ook alles op Lesotho se brood gesmeer kan word nie.

устройствоДанильченко Юрий отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae