Wêreldhof gee groen lig

In ‘n onverwagse verwikkeling het die Wêreldhof in Den Haag beslis dat ‘n Afrikanervolkstaat weens onderdrukkende maatreëls onafhanklikheid kan verwerf.

Die Afrikanerstigting, bygestaan deur Afri-Instituut, wat die aansoek voor die hof gebring het, hys reeds môre, 1 April, die nuwe staat se vlag op Brandvlei.

“Om te slaag in die aansoek moes ons nie net onderdrukking bewys nie, maar ook ‘n lewensvatbaarheidsplan, en ingevolge die Volkereg ondernemings gee dat ons nie op ons beurt minderhede in die nuwe staat aan soortgelyke onderdrukking sal onderwerp nie. Die gebied wat môre onafhanklik word, strek van die samevloeiing van die Oranje- en Vaalriviere tot by Prieska, en daarvandaan suid tot by Calvinia.,’” sê die uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, dr. Eugene van Tonder.

“Die voorbereiding van die hofsaak het drie jaar lank geduur. Ons is baie gehelp deurdat die regering deurentyd besluite geneem het wat ons saak versterk het. Die laaste was die ANC se besluit om te appelleer teen die hofbevel wat “skiet die Boere” verbied het. Die regter was baie uitgesproke in sy afkeer oor die ANC se houding hieroor, en dit het waarskynlik saam met die regering se weiering om ‘n sonsondergangklousule aan regstellende aksie te plaas, die deurslag gegee,” aldus mnr. Robert Terre’Blanche, voorsitter van Afri-Instituut.

“Boonop het die regering, wat as respondente moes optree, nooit enige aksie geneem om die saak te opponeer nie. Trouens, die regering se regspan het nie by ‘n enkele sitting opgedaag nie.”

Sapa se navrae by die Ministerie van Internasionale Betrekkinge het ‘n geskarrel afgegee. Teen druktyd het dit voorgekom asof die amptenaar wat hiermee moes werk, die afgelope vier maande nooit op kantoor was nie, en dat die kennisgewing van die voorgenome gehoor reeds maande op sy lessenaar lê.

Gerugte dat dit eintlik ‘n skynpos is om ‘n salaris te trek vir werk wat hy in Lethuli-huis verrig, kon nie bevestig word nie.

“Ons eerste taak na die vlaghuising is om ‘n tonnel deur ‘n ysterklipkoppie by Prieska te graaf, en sodoende ‘n deel van die Oranje se water in sy oerstroom te kanaliseer. Daardie water sal tot naby Calvinia vloei, en van daar weer in die bedding van die Sakrivier terug na die Oranje. Hierdeur word ons in staat gestel om duisende hektaar onder intensiewe besproeiing te plaas. Naby Loxton stort die water oor ‘n waterval, en ‘n groot hidro-elektriese kragsentrale word hier aangelê. Ons het reeds ‘n saak geregistreer om, namate ons waterbehoeftes toeneem, oordrag van Lesotho se Hooglandskema na Gauteng te beperk.

“Ons hoop om binnekort met bilaterale samesprekings met Orania te begin. Ons voel Orania is die Afrikaner se geestelike metropool,” aldus Van Tonder.

воронеж очисткаданильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae