Plekname as katalisator vir polarisasie

Op die oomblik dra Media 24 ‘n insiggewende rubriek van prof. Amanda Gouws oor die verwoestende uitwerking van haatspraak om polarisasie aan die hand te werk, en selfs in gevalle tot volksmoord gelei het. Die rubriek sluit selfs statistiese data in.

Suid-Afrika self het al by herhaling ervaar hoe haatspraak polarisasie skerp opjaag, wat in die jongste konteks vererger word deur ‘n president wat dit in effek goedpraat, en ‘n regerende party wat dit kondoneer.

Tog staan haatspraak nie kop en skouers bo ander faktore tot polarisasie uit nie. Die verandering van plekname is nog so ‘n geval.

Die opstellers van die grondwet het dit blykbaar voorsien, en ‘n meganisme in werking gestel waardeur plekname en munisipaliteite se name nie dieselfde hoef te wees nie. Die hoofdoel met die opsies wat wel vir naamsveranderinge bedoel is, is dat werklike kwetsende name en spelling reggemaak kan word.

Die versoenende bedoeling word onder meer mooi in dele van die aanhef van die grondwet asook die onderhandelde grondwetlike beginsels vervat.

Dié konsepte is egter duidelik nie genoegsaam ondervang nie. Gesindhede kan duidelik nie deur wetgewing gebou word nie, en plekname word nie net op ‘n streep verander nie, maar daar word ruim van die versoeningsbeginsels afgestap. Groot bitterheid en selfs hofsake om konkelwerk ongedaan te maak het gevolg.

In die proses het die Vrystaat die kwessies redelik vrygespring. Daar was al klein lopies met min gevolge, soos ‘n ondeurdagte voorstel van die een faksie van die Suid-Sotho Taal en Kultuurvereniging om Bloemfontein se naam na die perd van een van Mosjesj die eerste se seuns te vernoem, Thabure. Dié seun, Leratholi en sy perd was taamlik berug vir veestropery en stropery in die algemeen  in die destydse Vrystaatse republiek wat weer as sneller vir Bastotoe-oorloë gedien het.

Dit is duidelik dat ‘n foutiewe weergawe van die geskiedenis dikwels die eise onderlê, soos ook dikwels met restitusie-eise vir landbougrond die geval is.

Nou word weer voorgestel dat Bloemfontein se naam na Mangaung, wat reeds die naam van die munisipale struktuur is, verander word.

Dat ‘n konsep bestaan dat Mangaung uiteindelik weer ‘n pleknaam sou word – dit was eens die oorkoepelende naam van die swart woongebiede – blyk uit die wapen van die Mangaung-munisipaliteit: Mangaung, City on the move. Op die program vir die wêreldbeker-sokkertoernooi word ook aangedui dat die wedstryde in Mangaung gespeel word.

In die praktyk het die raad egter gewoonlik ‘n pragmatiese, hoewel nie wetlik suiwer nie – houding ingeneem deur van die vertrekpunt uit te gaan dat die “plek” Mangaung uit drie stede, Bloemfontein, Botshabelo en ThabaNchu bestaan.

Die oorspronklike bewoners van die Bloemfontein-omgewing, die Koi en San, is deur Tswanasprekende stamme verdring. Hulle het op hul beurt weer die uitdelgingsoorloë van Tsjaka en Dingaan ten prooi geval. Hul plek is toe deur Korannas en Griekwas ingeneem, en die oudste bekende gebruiksnaam van die omgewing, Bloemfontein, dateer skynbaar uit hierdie tyd. Die bekende historikus, Theal, meen dit is afgelei van die naam van ‘n Korannakaptein, Jan Bloem.

Die Suid-Sotho’s, wat nou die naam Mangaung opeis, is eers veel later – in die omgewing van 1830, as nasie georganiseer, toe Bloemfontein reeds in die geskiedenisboeke as pleknaam aangedui was.

Dit mag wees dat oorblyfsels van Tswanastamme, wat aan die bouers van die klip-byekorfhutte verwant was, die volksmoorde oorleef en by die Suid-Sotho’s geassimileer is, en ‘n vroeëre naam so deel van die Suid-Sotho-herinneringe geword het.

Twee aspekte kom egter duidelik na vore. Geskiedenis wat die oorwinnaars se weergawe staaf, is geen geskiedenis nie, en sal noodwendig van ander se herinnerings – dikwels opgetekende geskiedenis – verskil. Om die geskiedenis te verpolitiseer, is om polarisasie sommer terugwerkend te maak.

Tweedens, om die geskiedenis, suiwer of nie, van een groep op ‘n ander af te dwing skep polarisasie.

Die Vrystaatse pleknamekomitee stel hom dit ten doel om die kwessie binne dertig dae af te handel. Dit plaas ernstige vraagtekens oor die verbintenis tot behoorlike konsultasie en verrekening van gevolge.

Geoordeel aan die woorde-oorlog op die internet is hier ‘n behoorlike geveg op hande.

set jewelleryлобановский александр харьков

Maak 'n opvolg-bydrae