Die onlangse uitsprake van Julius Malema en die onophoudelike uitblakering van die doen en late van hierdie militante en uitgesproke jeugleier, het gesorg vir ‘n gratis bemarkingsveldtog deur ons pers. Een wat uiteindelik net tot voordeel van hom en sy massa aanhangers is. Ek stem heelhartig saam met ‘n vroeëre skrywe van Anton Barnard dat Malema ons ‘n guns doen want hy is eintlik besig om die linkse blanke Afrikaner te “liberate” en die wat nog slaap wakker te maak. Die vraag is egter of dit goed is en of dit nie lankal reeds te laat is nie.
Ek dink Malema is ‘n diktator wat wag in die gange van ons sogenaamde demokratiese bestel. Een wat, as hy aan bewind sou kom, die menseregtehandves met een veeg vanaf sy tafel sal veë en die gronwet sal verbrand.
Sy uitsprake oor grondhervorming kan nie net as belaglik afgemaak word nie. Dit moet eerder ‘n waarskuwing dien van dit van in sy en sy volgelinge se koppe aangaan. Gedagtes wat nou gekoester word is môre se dade.
Wat nog meer onrusbarend is, is dat dit nie bloot net by hom en sy comrades bly nie maar op parlimentêre vlak bespreek word. Alhoewel Jacob Zuma dit glimlaggende ter syde werp en maak asof dit kattekwaad is deur kinders aangeja, behoort ons nie hierdeur geflous te word nie.
Hy is besig om sy pensioen by mekaar te maak, asook dié sy baie vrouens. Ons beleef stellig die laaste era van ‘n verkose president deur die ANC. Ons is besig om ‘n era van Afrikadiktatorskap te betreë en hoef geen twyfel te hê oor wat dit behels nie.
Moet ook glad nie dink dis onmoontlik nie, Afrika is bekend vir diktators soos President Mwai Kibaki van Kenia, President Umaru Yar’Adua van Nigerië en die DRK se Joseph Kabila. Dan praat ons nog nie van ons ou buurman Mugabe nie. Almal ingestem deur die histeriese massas wat hierdie verlossers op ‘n wolk sien neerdaal het en ander wat bloot te bang was om hulle te verwerp.
Waar dit nie meer gewerk het nie is die massas geïntimideer, gemartel en baie ook vermoor. ‘n Dooie man kan mos nie stem nie. Is dit nie maar hoe Zuma ook daar bo gekom het nie, deur dreigemente? Malema en die ANC-Jeugliga het gedreig om die land onregeerbaar te maak as die hofsaak teen Zuma, die laaste hindernis na presidentskap, slaag. Die regering het geluister en die “onafhanklike” regbank, een van die trotse pilare van ons grondwet het die knie gebuig. Ons het ‘n staatsgreep gehad sonder dat een skoot geskiet is. Die ANC-Jeugliga, SAKP en COSATU behoort erkenning hiervoor te kry, hulle was briljant, slinks en berekend. Amper nes PW Botha gedurende die sogenaamde Info-skandaal in die middel sewentigs.
Hoekom is dit nog dat sekeres dink dat Malema nie Staatspresident kan word nie? Dalk nog na die volgende verkiesing.
Kyk net na die reaksie van sekeres in die parliment gedurende die bespreking van Malema. Na aanleiding van Pandor se uitbarsting en tirade kan baie afgelei word. Sy het blykbaar die hoogste waardering vir sy uitlatings, “the young man”, soos sy liefderik na hom verwys.
Nodeloos om te sê, baie deel haar sentimente en sal enige dag die jongman as president inlaat. Dit sal die doodskoot wees vir ons halwe demokrasie en die einde van ons land as ongetwyfelde leier in Afrika. Kaapstad sal nog ‘n Luanda word met of sonder Zille en Johannesburg ‘n patetiese geraamte in die begrafplaas van Afrika. Vir enige regdenkende sal daar slegs twee opsies oorbly, vat jou goed en trek Ferreira of bly en vat die pyn. Nogtans dink ek enigeen wat tans met ‘n vervalde paspoort sit, lewe ‘n illusie of beskik oor te veel geloof.
