Die City Press het Maandag die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, uitgedaag om regstappe te neem as hy glo ‘n joernalis het sy handtekening vervals om hom as ‘n slegte mens uit te beeld.
“Dit is ‘n baie ernstige bewering. Hy moet ons dagvaar as hy glo ons het sy handtekening vervals,” het Ferial Haffajee, redakteur van City Press, gesê.
Malema het lede van die jeugliga tydens ‘n saamtrek toegespreek en gesê ‘n joernalis van die City Press het sy handtekening vervals.
Die koerant het berig dat Malema gejok het toe hy tydens ‘n mediakonferensie gesê het hy het geen aandele in ‘n maatskappy wat winsgewende tenders in Limpopo toegeken is nie.
Volgens dié berig het Malema 70% aandele in SGL.
Hy het as direkteur geteken, om magtiging vir sy sakevennoot te gee en ‘n derde keer om sy meerderheid aandele van krag te maak.
Haffajee het gesê Malema het ‘n kans gekry om die dokumente te sien voor die berig gepubliseer is.
“Hy het nie na die dokumente kom kyk nie. Hy het ‘n opiniestuk aan ons gestuur wat ons op bladsy twee geplaas het,” het sy gesê.
Dié opiniestuk was oor stories wat gepubliseer is sedert bewerings van Malema se betrokkenheid in SGL verlede week aan die lig gekom het.
Haffajee het gesê sy vergader Dinsdag met die koerant se prokureur.
