Aardbewings: Word hulle al hoe erger en gereelder?

Met die verwoestende aardbewing wat Haïti vroeg vanjaar getref het, gevolg deur ‘n nog sterker aardbewing in Chili en die 2004 aardbewing wat die Ooste getref en ‘n reuse tsunami tot gevolg gehad het nog vars in die geheue, kan die indruk dalk gespek word dat verwoestende aardbewings nou meer gereeld voorkom.

Aardbewings neig om as sneller vir ‘n volgende aardbewing te dien, en daarom is dit nie vreemd dat aardbewings in verskillende dele van die wêreld mekaar in ‘n kort tydjie kan opvolg nie.

‘n Deel van die rede waarom die persepsie kan ontwikkel dat aardbewings nou erger is as tevore, is dat die 2004-Sumatra-aardbewing die tweede sterkste aardbewing is wat nog gemeet is, en dat daar soveel lewensverlies en skade in Haïti was.

Die Sumatra-aarbewing het 9,3 op die Richterskaal gemeet, terwyl die sterkste wat gemeet is, 9,5, was toe ‘n aardbewing in 1960 Valdivia in Chili getref het. Dit is die ergste aardbewing wat nog aangeteken is, maar ander groot aardbewings in hierdie artikel vermeld is slegs dié wat sedert 1900 voorgekom het.

Die derde grootste aardbewing was in 1964 in Alaska toe 9,2 op die Richterskaal gemeet is.

Die vierde grootste het in 1952 in die ooste van Rusland voorgekom, en 9 gemeet.

Die jongste grote, dié in Chili vanjaar, het 8,8 op die Richterskaal gemeet, dieselfde as ‘n aardbewing in 1906 Ecuador geskud het.

In 1965 het ‘n aardbewing van 8,7 op die Richterskaal eilande digby Alaska geskud.

In 2005 het nog ‘n grote by Sumatra voorgekom en 8,6 op die Richterskaal gemeet.

In 1950 is Tibet en omstreke deur ‘n aardbewing van 8,6 op die Richterskaal getref.

Eilande by Alaska was in 1957 weer aan die beurt met ‘n skudding van 8,6.

In 2007 is Sumatra weer geskud, dié deur ‘n aardbewing van 8,5 op die Richterskaal.

Hoewel die aardbewing in Haïti uiteindelik waarskynlik ‘n dodetal van sowat 300 000 sal oplewer, tel dit met ‘n meting van 7 nie onder die grotes nie. Trouens, die geringste aardbewing onder die grotes, dié van 8,5 in 2007 by Sumatra, was ongeveer 50 keer hewiger. Selfs ‘n onlangse aardbewing in die see naby Nieu-Seeland wat 7,8 gemeet het en min skade aangerig het, was bykans tien keer sterker.

Haïti is nie al geval waar daar nie ‘n verband tussen die sterkte, skade en lewensverlies was nie. In 2009 het ‘n aardbewing van 5,8 die L’Aquila-streek in Italië getref en 307 mense het gesterf, wat bydra tot die persepsie dat die aarde nou onder buitengewoon baie verwoestende en dodelike aardbewings deurloop. Selfs die Tulbach-aarbewing was sterker as hierdie een.

‘n Rede waarom Haïti en Italië moontlik proporsioneel soveel skade en sterftes opgelewer het met betreklike “mak” aardbewings, is moontlik dat al die wêreld se grotes, uitgesonderd die aardbewing wat Tibet getref het, in die sogenaamde “Pasifiese Ring van Vuur” voorgekom het. Ook Haïti en Italië val buite hierdie gebiede, en hoewel aardbewings nie ongewoon in hierdie areas is nie, is die gemeenskappe waarskynlik nie so goed ingerig vir werklike kwaai aardbewings nie, en tuimel geboue makliker in omdat hulle nie gebou word om sterk aardbewings te weerstaan nie. Swak vakmanskap in Haïti word as een van die hoofoorsake vir die hoë sterftesyfer beskou.

‘n Faktor wat waarskynlik bydra daartoe dat die indruk geskep word dat aardbewings hewiger word, is dat die syfers wat gegee word nie altyd in die Richterskaal uitgedruk word nie, maar skale met hoër syfers. Soos die media die syfers by mekaar oorneem, word dié syfers gereeld na Richerstkaal verander sonder dat die syfer self aangepas word.

Terwyl dit nie so maklik is om die aanname te maak dat die aarde nou besonder seismies aktief is nie, is dit wel duidelik dat die aarde nog lank nie so oud is dat dit onaktief word nie.

машины на радиоуправлениепрокурор харьковской области

Maak 'n opvolg-bydrae