Nuuskommentaar: Slaggatgereed vir sokker

Die laaste ding wat Suid-Afrika en die wêreld nodig gehad het so kort voor die aanvang van die sokker-wêreldbekerkampioenskap is dat die publiek se vertroue in die polisie ‘n verdere knou moes kry.

Terwyl sowat 50 000 polisiemanne en vroue teen groot koste vir ‘n makietie na Bloemfontein gebring is, is twee huise in Shoshanguwe afgebrand, en kon die polisie darem keer dat ‘n derde ook afgebrand word. Hierdie huise behoort aan die verdagtes in ‘n moordsaak, maar die mense wat voor die vlamme moes vlug en nou niks oor het nie was nie verdagtes nie.

In Welkom is ‘n skoolseun met ‘n mes gesteek, en in KZN is ‘n IVP-politikus met geweervuur aangeval maar nie beseer nie.

Bloemfontein lyk nou na ‘n varkhok na die makiektiegangers die drankwinkels leeggekoop, en inwoners met ‘n vreeslike geraas geteister het. Die polisiehoof se reaksie was dat die mense met die geel petjies wat die drankwinkels so leeggekoop het lede van die publiek was wat dié saamtrekpette in die hande gekry het. Dit is ongeveer dieselfde logika as dat veldbrande wat op ‘n streep in die nag ontstaan deur die sonlig veroorsaak word wat op gebreekte glas skyn, of deur die weerlig wat uit die wolklose blou lug slaan.

Terselfdertyd het die weermag getoon hoe slaggereed dié instelling is om veiligheid tydens die toernooi te waarborg deur konvensionele wapens soos die omstrede Grippens in te span.

Die gewone Suid-Afrikaner en voornemende buitelandse besoeker se bekommernis is egter hoe veilig hy of sy teen mesaanvallers, verkragters en rowers gaan wees, en dronk polisielede wat rommelstrooi en rusverstoring pleeg – drie misdade in een. Sulke polisiegedrag besoem nie juis vertroue in nie.

Die Konfederasiebekertoernooi wat as suksesvolle oefenlopie voorgehou word, het nie vir almal ewe goed afgeloop nie. Soos die huisvrou wat tydens die toernooi, onder die oë van ‘n veiligheidswag van haar hangertjie in haar bloes beroof is. Die veiligheidswag het verkies om niks te sien nie, en ook nie die gille van die slagoffer en haar vriendin te hoor nie.

Net om enkele dae later ‘n histeriese oproep van die betrokke polisiestasie se bevelvoerder te kry waarin sy uitgetrap word omdat sy “petty crime” by die SAPD aangemeld het, want dit laat die misdaadstatistieke sleg lyk. En, sê hy, ‘n mens rapporteer nie “petty crime” nie. Die vrou het dit bloot ter wille van ‘n versekeringseis vir ‘n duur erfstuk gedoen.

Dit is laat in die dag as roof ‘n “petty crime” geword het wat nie gerapporteer behoort te word nie.

Nie baie ver daarvan nie is ‘n ondersteuner van die besoekende Leeutoer wat met die sokker ooreengeval het, Midge Fergusson, naby sy gastehuis oor die kop geslaan en beroof. Dié insident het nie die plaaslike koerant gehaal nie, maar Fergusson het in ‘n media-onderhoud wat internasionaal versprei is gesê hy het die indruk van die polisieman wat hom in intensief besoek het, gekry dat die polisie meer besorg is oor die slegte publisiteit wat die insident inhou, as oor die misdadiger wat op vrye voete verkeer.

Suid-Afrikaners wil nie swartgallig wees nie, maar as die Dienders wys hoe hulle die misdadigers die loef kan afsteek, en as die land se kroonprins die land se beeld so deur die modder sleep, dan is ‘n titseltjie swartgalligheid te verstane.

Daar is baie ander, en goedkoper maniere, waarop goeie polisielede vir goeie diens beloon kan word anders as om ‘n gasheerstad op horings te neem.

shop games freeалександр лобановский харьков класс

Maak 'n opvolg-bydrae