Die Vryheidsfront Plus het gesê dat die probleem met vullisverwydering in Pretoria steeds vererger, met vullis wat ophoop ten spyte van die Tshwane-metroraad se onderneming om teen Maandag, 11 Januarie alle agterstande uit te wis.
Volgens inligting wat die VF Plus bekom het (aanmeldings deur die publiek), word vullis regoor Pretoria sedert Maandag verlede week steeds nie verwyder nie. Die areas sluit in:
Pierre van Ryneveld, Rooihuiskraal, Zwartkop, Die Hoewes, Faerie Glen, Menlo Park, Groenkoof, Waterkloof Heights, Waterkloofrif, Murrayfield Park, Erasmuskloof, Waverley, Lynwoodrif, Colbyn, Brummeria.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is hierdie vinnig besig om die ergste probleem tot nog toe rakende vullisverwydering in die Tshwane-metroraadsgebied te word. “Die probleem tree reeds sy tweede week binne. Vullis wat vir twee weke nie verwyder word nie begin ‘n gesondheidsrisiko vir inwoners inhou”, het Beyers gesê.
Volgens die VF Plus is die stad se haglike finansiële toestand die oorsaak van die probleem. Omdat daar nie geld is nie, kan die ANC-beheerde metroraad nie sy belofte gestand doen om die vulliswerkers permanent in diens te neem nie en daarom staak hulle. Die stad se wiele begin nou een vir een afkom vanweë die ANC se onvermoë om die munisipaliteit se finansies te bestuur.
Die VF Plus sê dit is onaanvaarbaar dat die plaaslike ANC ‘n sluier oor enige inligting rakende die toedrag van sake trek. “Die feit dat niemand in die ANC beskikbaar vir kommentaar is nie is ‘n verdere bewys dat die situasie versleg het.”
