Welkom in Afrika!


ImageGeen water en as jy petrol of elektrisiteit het, ag jouself gelukkig

Soos wat ek hier skryf, het ek twee dae laas gestort. Ons skep water uit die swembad om die toilette te spoel. Gisteraand was ons amper sonder petrol gestrand, want vier vulstasies het geen loodvrye brandstof gehad nie.

Nee, ek woon nie in Harare nie, maar in die noorde van Johannesburg. Dit is nou die soveelste keer binne enkele weke dat ons water afgesny raak. Pype wat bars weens gebrekkige instandhouding en beplanning, onbetroubare nooddienste, munisipale amptenare wat geen snars omgee nie, het nou tiperend van die Johannesburgse munisipaliteit geraak.

In sommige voorstede van Johannesburg is daar ten minste een keer per week ’n kragonderbreking. Ons weet van Streskom se TV-advertensies waarin ons aangemoedig word om energie te bespaar, want die land het ’n “kapasiteitsprobleem” wat elektrisiteitsopwekking betref.

Ook dít is te wyte aan swak beplanning, onbekwame amptenare wat op grond van ras en nie kundigheid nie aangestel word. Duidelik is Suid-Afrika besig om die muur te tref sover dit “transformasie” en rasgedrewe indiensneming betref en gaan die land vorentoe net meer probleme ervaar.

Asof die strukturele probleme wat water- en kragvoorsiening betref nie genoeg is nie, het die brandstofafleweringswaens besluit om te staak. Op ’n manier is dit die verdiende loon van die petrolmaatskappye want hulle sing voor in die koor as dit by transformasie kom en het die huidige radikalisme wat besig is om onder stakers pos te vat, aangemoedig.

Maar vir die gewone motoris wat by die werk moet kom of dalk ’n broodnodige produk moet laat aflewer, wag daar erge probleme.

Mbeki het reeds gesê ons moet verlief neem met onwettige immigrante wat oor ons grense stroom. Nou word daar van ons verwag om maar krag- en wateronderbrekings, asook brandstofskaarstes, met die fatalisme wat so tipies van dié kontinent se mense is, te aanvaar.

Die vraag is toenemend: gaan die Afrikaner hierdie toestande gedweë aanvaar of gaan ons by ’n punt kom waar ons sê: tot hiertoe, en nie verder nie?!

play clue game onlineтопкарго

Maak 'n opvolg-bydrae