Die toestand in die land is volgens haar "kommerwekkend en moet dadelik aangespreek word." Daar is blykbaar al 4 500 gevalle van verkragting vanjaar aangemeld, maar sy meen die syfer kan baie hoër wees. Die meeste slagoffers woon in afgeleë gebiede en rapporteer nie verkragting nie of oorleef dit selfs nie. Die Panzi-hospitaal in Bukavu ontvang jaarliks 3 500 gevalle van vroue wat aan fistula en ander ernstige genitaliese beserings ly.
Seksuele oortredinge is "buite beheer" en word deur rebelle, regeringsmagte en die nasionale polisie gepleeg. "Groot dele van die bevolking beskou dit as normaal," het Erturk verklaar. Burgerlikes is uitgelewer aan gewapende jong mans. Indien hulle met die "verkeerde" mense praat of hulle huisves, word hulle aangerand, verkrag en ook vermoor.
Erturk was ook "geskok" om te verneem dat die polisie en weermag sonder enige inhibisie teen onrusmakers optree en hulself bó die wet ag. Hulle plunder, martel en voer groepsverkragtings uit sonder om te aarsel. Sy het verwys na ‘n geval waar 70 polisielede so ‘n wraakaanval uitgevoer het.
