Dit is nie net die nuuswaardighede van 2009 wat groot of prominente nuus was, wat ‘n invloed op 2010 gaan hê nie.
Sommige groot nuusgebeure soos die 2009-verkiesing en die optrede van Angus Buchan het wél ‘n momentum met ‘n sleureffek. Sommige van hierdie sleureffekte is positief, ander kan baie afbrekend wees soos die buitelandse verleentheid wat pres. Jacob Zuma se nuwe vrouvattery vir die land inhou.
Daar is egter net soveel, of selfs meer gebeure wat ‘n beduidende sleureffek in die nuwe jaar gaan indra, maar wat hier te lande te lig bevind is om aandag, of dan die aandag wat dit verdien, in die hoofstroommedia te geniet.
Buite die openbare oog het ‘n meningspeiling in die VSA vanjaar daarop gedui dat die meeste Amerikaners vir die eerste keer sedert dit gemeet word, teen aborsie op aanvraag gekant is. Hierdie kwessie het hom ook in die komplekse bepalings van pres. Barack Obama se worstelstryd in die Kongres met ‘n nuwe gesondheidsorgstelsel afgespeel.
Ook buite die openbare oog was die groter outonomie wat die inwoners van Groenland van Denemarke gekry het. Die groter mate van outonomie is minstens deels te danke aan die groter mate van ekonomiese selfstandigheid wat klimaatsverwarming vir die Groenlanders inhou.
Presies hoe die gevorderde demokrasieë die demokrasie en die belangrike meeloper, persvryheid, beskou, het in verskeie nuusgebeure neerslag gevind. Nederland het sy eie klein Watergate beleef met ‘n hofsaak waar die veiligheidsdienste die kous oor die kop gekry het weens die meeluistering van ‘n joernalis, en België se Hlope-weergawe het nie net ‘n regter se kop geëis nie, maar die premier het dit as ‘n baie groot bedreiging vir demokrasie beskryf.
Die Baskiese afskeidingsgroep, ETA, het sy 50ste bestaansjaar bloedig gevier, die Tamils in Sri Lanka is militêr verslaan, die Koerde in Turkye maar veral Irak het belangrike minderheidsregte verwerf, en nog ‘n etniese groep in Indië gaan hul eie deelstaat kry.
Met die Kopenhagenberaad het die klem so na die politici verskuif, dat dit wat die tegnokrate doen bykans ongesiens verbygegaan het. Die Anaconda-tegnologie om hernubare elektrisiteit uit golfwerking op te wek , het bykans ongesiens verbygegaan. So ook die meer ekonomiese haalbare spesiale komberse wat Chinese ontwikkel het om die natuurlike elektrisiteit wat in sommige plantsoorte opgesluit lê te kan tap en benut.
Sake wat selde die nuus haal, soos die immer-verswakkende magnetiese veld om die aarde, die skerp toename in gevalle van outisme asook nuwe verwikkelinge met stamselbehandeling se impak is waarskynlik veel groter op 2010 en daarnaas as die verkiesing van pres. Barack Obama of nog ‘n Israels-Palestynse skermutseling.
In verskeie lande was daar oproepe dat 2009 as die jaar van geestelike higiëne moet dien met die fokus op groter moraliteit onder die politici en ook die media. Die besef van die noodsaak vir groter moraliteit het sy eie dryfkrag beleef, soos onder meer gedemonstreer deur die viering van Calvyn se 500ste geboorteherdenking in Nederland waar die premier een van die hoofrolspelers was.
Dit was egter die genadelose inhaligheid van banke en ander instellings se grootbase wat die moraliteitstorm tot groot hoogtes aangevuur het – base wie se instellings skaars staatshulp gekry het om die instansies se voortbestaan te beredder, of bonusse van miljoene rande word aan die base toegeken. Die gevolg was onder meer dat die ekonomiese herstelplanne van verskeie state, soos België, baie ruimte aan die moraliteitsaspek afstaan. In Nederland is selfs probeer om wetgewing deur te voer wat bankbase persoonlik aanspreeklik kan hou vir die gevolge van inhalige besluite, terwyl voorstelle om tronkstraf hiervoor moontlik te maak, nie veel minder aftrek gekry het nie.
Of groter prominensie hiervan daartoe sou bydra dat ‘n paar ministers, LUR’e of burgemeesters hier te lande minder luukse rygoed sou aanskaf is ‘n ope vraag.
Suid-Afrika, en die wêreld, het nie net een jaar van morele higiëne nodig nie.
Dit is ‘n proses wat momentum moet kry, en elke individu kan ‘n groot rol speel.
