Die ooreenkoms in Kopenhagen bemoeilik die taak van Amerikaanse wetgewers om volgende jaar ’n koolstofverhandelingsmark op die been te bring omdat China ingevolge die ooreenkoms nie wetlik gedwing kan word om ook sy kweekhuisgasuitset in te perk nie.
Australië wil egter ’n koolstofmark in Julie 2011 instel wat 1 000 van die grootste Australiese maatskappye sal dwing om koolstofkrediete te koop vir kweekhuisgasuitsette wat ’n sekere perk oorskry.
Die Europese mark in koolstofkrediete het weer herstel nadat dit teruggesak het ná die teleurstellende ooreenkoms wat in Kopenhagen bereik is.
Die 17de konferensie van die VN se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering sal oor twee jaar in Suid-Afrika byeenkom.
Die volgende beraad word volgende jaar in November in Mexiko gehou, en die een daarna – van 28 November tot 9 Desember 2011 – in Suid-Afrika.
Dit sal ’n belangrike konferensie wees aangesien die bestaande klimaatsooreenkoms ingevolge die Kyoto-protokol verstryk in 2012.
