Eurostartreine tussen Brittanje en Frankryk sal weer teen Dinsdag begin loop, het die maatskappy Maandag gesê.
Hulle blameer die poeierige sneeu vir ‘n reeks gebreekte treine wat duisende gestrand gelaat het en die Franse regering ontstig het.
Eurostar, wat deur die Franse en Belgiese spoorwegmaatskappye en Brittanje besit word, het Maandag treindienste vir die derde dag in ‘n ry gekanselleer nadat sowat 2 500 mense Saterdag vir tot 16 ure op treine in die kanaaltonnel vasgekeer was.
Die Franse regering twyfel of die koue die enigste oorsaak vir die stilstand was en het daarop aangedring dat ‘n ondersoek geloods word.
President Nicolas Sarkozy het die hoof van Eurostar en die Franse spoorweë SNCF, Guillaume Pepy, genader vir ‘n verduideliking.
Eurostar se hoof uitvoerende beampte, Nicolas Petrovic, het “baie ligte, poeierige sneeu” wat gewoonlik eerder in die berge as op die vlaktes in die noorde van Frankryk gevind word vir die chaos blameer.
Die maatskappy het ‘n onafhanklike ondersoek geloods.
Hy het gesê dat die sneeu dmv die treine ingedra is in die tonnel en daarna in die warmer toestande gesmelt het en kondensasie veroorsaak het wat die elektriese kragstelsel beïnvloed het.
Eurostar hoop om Dinsdag twee uit die drie dienste te laat loop nadat hulle tevrede is met toetse wat Maandag gedoen is.
Nietemin het Petrovic gestrande pendelaars aangemoedig om, indien moontlik, ander maniere te vind om by hul bestemmings te kom en aangebied dat Eurostar die kostes dra.
