‘n Groep inwoners het die gereg in eie hande geneem en ‘n vermeende rower in Polokwane doodgeslaan, het die polisie Maandag bekend gemaak.
Volgens insp. Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder, is die man en twee medepligtiges Sondagoggend vasgetrek terwyl hulle besig was om by ‘n huis op die Tweefontein-hoewes in te breek.
“Toe die mans besef dat hulle geëien is, het hulle op vlug geslaan. Maar een van die verdagtes is deur ‘n groep inwoners voorgekeer en so hard geslaan dat hy beswyk het,” het Ramoshaba gesê.
Na bewering is drie mans tussen die ouderdomme van 32 en 39 in hegtenis geneem.
“Ons waardeer dit as die publiek ons uithelp om misdaad te bekamp, maar onder geen omstandighede kan dit tot sulke uiterstes gevoer word nie,” het hy gesê.
