Die leier van die ANCYL, Julius Malema, sê die nalatenskap van rassisme duur in alle sfere van die gemeenskap voort.
In ‘n onlangse artikel op ANC Today, die weeklikse aanlynnuusbrief van die ANC, sê hy dat rassistiese houdings, stereotipes en optredes eienskappe van die Suid-Afrikaanse gemeenskap is.
Hoewel “wit rassistiese studente swart werkers by die Universiteit van die Vrystaat skandalig verkleineer het”, is rassisme volgens Malema nie tot die Vrystaat beperk nie.
Dit is lewendig in skole en instellings vir hoër opvoeding, die werksplek en die korporatiewe sektor, sê Malema.
Hy kla oor die trae pas van transformasie in die privaatsektor, hoofsaaklike weens die dominansie van blanke mans wat geteel en gekultureer is onder institusionele rassisme en wat nie in staat is om te waardeer en te verstaan dat swartmense, Bantoes in besonder, ook menslike wesens is en dat hulle in staat is, of meer in staat is, as witmense om die werk wat gedoen moet word, te verrig nie.
Hy sê miljoene plaasarbeiders en huishoudwerkers lewe met brutale rassisme op ‘n daaglikse basis, maar hulle stemme word nie gehoor nie.
Malema beskuldig wit kinders voorts dat hulle swartes as sub-menslik sien.
“Baie wit kinders word grootgemaak met die opvattingstelsel wat hulle leer dat Bantoes sub-mense, ver benede hulle, is en dat hulle op die onderkant van die rasseleer sit. In veelrassige skole word Bantoe-kinders geleer om blanke mense se manier van dinge doen aan te neem. Hulle word aangemoedig om blankes se aksente aan te neem, want alle Bantoe-dinge word met minderwaardigheid geassosieer.
“Dit is ‘n feit dat in moderne Suid-Afrika, Afrika-kulture ‘n snelle dood sterf. Bantoe-kinders wat in ons voorstede leef begin om hulle kulturele gebruike en taal af te sweer, want die kultuur en die taal van die witmense word as ‘n superieure model en ‘n meer aanvaarbare manier van lewe voorgehou. Is dit wat ons vaders voor geveg het? Is dit die nuwe Suid-Afrika, ‘n wit Suid-Afrika wat nie soveel verskil van apartheid-Suid-Afrika nie?”
Hy sê rassehoudings en stereotipes behoort uit die gemeenskap ontwortel te word, veral onder kinders.
Malema het ook probeer om blankes te paai deur te sê dat hulle oortuiging dat swartmense daarop uit is om hulle te ondergrawe, ongegrond is en dat daar geen grondslag vir hulle onsekerheid is nie.
Hy sê baie van hulle ly aan “oerwoudkoors”, ‘n vrees vir alles wat swart is.
