Admiraal sê see is te groot om seerowers te stop

Internasionale vlootmagte sal nooit in staat wees om die ontsaglike groot oseaanstreek waar Somaliese seerowers skepe aflandig van Oos-Afrika kaap, heeltemal te beveilig nie, het die bevelvoerder van die VN se Vlootmagte se seerowerbestrydingspoging gister gesê.

In die nuutste aanval het seerowers Sondag die Maran Centaurus wat onder ‘n Griekse vlag is en wat 275,000 metrieke ton ru-olie dra, gekaap, sê die skip se eienaars. Dit is omtrent 2-miljoen vate olie en ongeveer $150-miljoen werd, sê Ben Cahill, die hoof van Petroleum Risikobestuursdienste by PFC Energy.

Die vlootbevelvoerder sê die Maran Centaurus het oos van ‘n gebied, wat die EU se Vlootmagte tenkers aanbeveel het om van weg te bly, gevaar, so dit sou nie noodwendig verwag het om aangeval te word nie. Seerowers het nou 11 skepe en 264 bemanningslede langs die kus van Somalië in aanhouding, sê Skout-admiraal Peter Hudson.

“Die nuus, ‘n paar dae gelede, van ‘n 300,000-ton tenker wat gekaap is, dien ter illustrasie van die probleme om ‘n gebied van die oseaan wat 1-miljoen vierkante myl beslaan, te beskerm en te polisieer,” sê Hudson, die bevelvoerder van die EU se Vlootmagte se teenseeroweroperasies.

Hudson sê ook dat die feit dat die seerowers nou skepe so ver as 1,000 myl van die Somaliese kus af aanval, ‘n groot uitdaging daarstel en dat die EU-mag nooit so ‘n groot area ten volle kan beveilig nie. Die EU Vlootmag se strategie in die kleiner Golf van Aden is om die tyd wat dit seerowers neem om aan boord te kom, te verleng, sodat ‘n helikopter na die toneel gestuur kan word.

“Die moeilikheid in so ‘n groot gebied soos in die Indiese Oseaan met die klein hoeveelheid bates wat ons het, is dat… die seerower kan aanhou kom en gaan en aanhou totdat hy daarin slaag om aan boord te kom, want daar is niks om hulle te keer nie,” sê hy.

Hudson sê olietenkers soos die Maran Centaurus kan verleidelike teikens wees.

“Sy’s ‘n groot ou dame, amper ‘n kwartmiljoen ton. Hulle is nie vinnig nie, hulle sit laag in die water… so ‘n vasberade seerower soos hierdie een kan suksesvol wees,” het Hudson in Kenia tydens ‘n uitgebreide toer in Oos-Afrika gesÊ.

Namate seeroweraktiwiteit langs Oos-Afrika toegeneem het, het sommige skepe begin om gewapende wagte te dra. Die EU Vlootmag het gister gesê dat ‘n Spaanse visvaartuig met ‘n privaat veiligheidspan aan boord waarskuwingskote Sondag tydens ‘n aanval op seerowers gevuur het, en daarmee die kapingpoging afgeweer het.

Brandstoftenkers soos die Maran Centaurus het nie gewapende sekuriteit nie weens die ontvlambare vrag, ‘n bepaling waarmee Hudson sê hy saamstem.

“Op die oomblik dink ek is die konsensus, ten regte, dat ons baie versigtig moet wees voordat ons militêre groepe, gewapende wagte, siviele wagte op brandstoftenkers vol brandstof en gas bring,” sê hy.

Somalië se wettelose, 1,800-myl kuslyn het ‘n seerowervesting geword. Die verarmde Horing-van-Afrika land het nie ‘n funksionerende regering vir amper ‘n volle geslag gehad nie en die swak VN-ondersteunde administrasie is te besig om Islamitiese insypeling te beveg om agter die seerowers aan te gaan.

 

полиграфлобановский александр отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae