‘n Gewapende rower is gister in ‘n skietgeveg met polisie doodgeskiet nadat sy ontsnappingsvoertuig in ‘n ongemerkte polisievoertuig vasgery het, sê die Gautengse polisie.
Superintendent Eugene Opperman sê beamptes van die Noord-Rand Blitspatrollie het met hulle lewens daarvan afgekom toe verskeie gewapende rowers op hulle losgebrand het op die hoek van Top- en Atlas-weg.
Die polisiebeamptes was onbewus van die feit dat gewapende rowers ‘n man wat so pas ‘n bedrag geld by ‘n nabygeleë bank getrek het, agtervolg het. Die rowers het in drie voertuie gery.
“Een van die voertuie wat deur die rowers bestuur is, het in die agterkant van die polisievoertuig vasgejaag. Die beamptes is geheel en al verras toe verskeie mans verskyn het en op die polisievoertuig losgebrand het. Die rowers was duidelik ook verras deur die ongemerkte polisievoertuig wat ‘n duidelike bedreiging vir hulle wegkompoging was,” het Opperman gesê.
Die beamptes het “takties uit hulle voertuig gerol” toe die koeëls daarin vasgeslaan en vensters gebreek en skade veroorsaak het. Die beamptes het in selfverdediging teruggevuur.
Een rower is doodgeskiet terwyl die ander van die toneel gevlug het. Op die hoek van Ridge- en Elizabeth-weg in Boksburg het die oorblywende rowers probeer om ‘n motoris van haar motor te beroof.
‘n Lid van die publiek wat gesien het wat gebeur, het op die rower geskiet. ‘n Paramediese voertuig wat in dieselfde pad afgekom het, het die rower platgery. Die ernstig beseerde rower is hospitaal toe geneem. Hy het ook ‘n skietwond in die bors gehad.
Die man wat van die bank gevolg is, het intussen na die naaste polisiestasie gegaan.
“Die twee polisie-inspekteurs het wonderbaarlik enige beserings vrygespring,” het Opperman gesê.
Die polisie soek steeds na ten minste 10 ander verdagtes wat van die toneel gevlug het.
