Terreuraanval laat vermoedelik Russiese trein verongeluk

Minstens 39 mense is dood en sowat 100 is beseer toe ‘n Russiese passasierstrein Vrydagnag ontspoor het.

Volgens regeringsamptenare het die Nevski Express in die Novgorod-area tydens ‘n reis tussen Moskou en St. Petersburg ontspoor.

“Vyf en twintig mense is dood, 19 word vermis en ‘n verdere vier tot sewe mense is moontlik nog tussen die wrakstukke vasgekeer,” het Tatyana Golikova, minister van gesondheid, aan die Interfax-nuusagentskap gesê.

Vyf en negentig mense is ná die voorval gehospitaliseer.

‘n Sekuriteitsbeampte, wie se naam nie bekend is nie, het aan Interfax gesê ‘n gat van sowat 1m wyd is op die toneel sigbaar.

Die gat is moontlik deur ‘n ploftoestel onder een van die waens veroorsaak, het ‘n ander beampte gesê.

Volgens die bron het ooggetuies ‘n harde slag voor die ongeluk gehoor.

‘n Bomontploffing in Augustus 2007 het ‘n passasierstrein op dieselfde lyn laat ontspoor.

Tsjetsjniese rebelle en ultra-nasionalistiese groepe was destyds van die aanval verdink.

Rusland se teenterrorisme-eenheid het ‘n ondersoekspan na die ongelukstoneel gestuur.

 

LampФільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae